Ses polisiebeamptes in hof oor uitbuiting, korrupsie

Argieffoto

Argieffoto

Ses polisiebeamptes het Vrydag in ʼn hof in Kaapstad verskyn tydens vier verskillende hofsake op aanklag van uitbuiting, korrupsie, dwarsboming van die gereg en bedrog.

Die beamptes het in die gespesialiseerde misdaadhof in Bellville voor Sabrina Sonnenberg verskyn.

In een van die sake het die polisiebeamptes Jonathan Jerome Plaatjies (42) en Morne Britton Albert Fasser (30) skuld ontken op twee aanklagte van uitbuiting, twee van korrupsie en een van dwarsboming van die gereg. Plaatjies is by Mitchell’s Plain-sentraal polisiestasie gestasioneer en Fasser by Lentegeur, ook in Mitchell’s Plain. Fasser het glo R10 000 van ʼn vrou aanvaar om te reël dat haar dossier in ʼn kriminele saak “verdwyn”. Staatsaanklaer Xolile Jonas voer aan Plaatjies en Fasser het, nadat die R10 000 reeds betaal is, elk nog R20 000 van die vrou versoek. Die vrou het paniekerig geraak en die saak by ʼn senior polisiebeampte aangemeld. Hulle moet op 14 September weer in die hof verskyn.

In nog ʼn saak het Kalvin Padayachee (44), ʼn kaptein van die Stellenbosch-polisiestasie, verskyn op vier aanklagte dat hy omkoopgeld ontvang het. Hy het nog nie gepleit nie. Staatsaanklaer Derek Vogel voer aan Padayachee het omkoopgeld aanvaar om seker te maak dat bloedmonsters en ondersoekdossiere in dronkbestuursake verdwyn. Hy het glo R4 000 ontvang in drie verskillende dronkbestuursake en R180 om ʼn verkeersboete te kanselleer. Hy moet op 20 Augustus weer in die hof verskyn.

Elizabeth Messias en Riaan Hunt, al twee van Worcester-polisie, staan albei tereg op twee aanklagte van uitbuiting. Hulle het skuld ontken. Die twee beamptes het glo twee keer geld geëis van ʼn verdagte om te verhoed dat hy in hegtenis geneem word vir die besit van CAT. Hulle moet op 3 September weer in die hof verskyn.

In ʼn vierde saak staan Marius Swart (50) van Seepunt-polisie tereg op aanklagte wat verband hou met geld wat versoek is om vier persone by te staan wat op soek was na polisieklaringsertifikate. Op versoek van staatsaanklaer Thersia du Toit-Smit moet Swart weer op 17 Augustus in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet Schabort ·

Uit eie onlangse ondervinding en wat mens lees oor die SAPD huiwer ek om enigsins met hulle te doene te hê.

Gerhard Bezuidenhout ·

Ja wat Peet behalwe vir n paar , ek se n paar, polsiemanne is die res nutteloos en korrup . Indien hulle nie met een of ander onderduimsheid besig is nie , maak hulle taxis van polsievoertuie, eet Kentucky of kruip iewers weg . Die meeste wat nagdiens werk gaan werktoe om te slaap. Gaan maak gerus na 22:00h saans n draai by die stasies en sien self of probeer hulle bel. Indien hul wel die telefoon antwoord is daar gewoonlik nie n voertuig beskikbaar nie. Jammer om te se maar hulle word eerder as die vyand gesien want mens weet nie wie om te vertrou nie.

George ·

In aansluiting met Peet en Gerhard bly ek dink aan die onlangse tv nuusberig waar die polisie uitgeroep is en geweier het om die stasie te verlaat omdat dit glo te koud was. Hulle het eenvoudig voor die verwarmers bly sit en geglo die probleem sal verdwyn. Ek dink nie ons land was al ooit in so ‘n septiese toestand soos nou.

Dave ·

Gisteraand is twee skootrekenaars, ‘n selfoon en ‘n beursie gesteel tydens ‘n inbraak in die woonstel van ‘n universiteitsstudent. Sy was in die woonstel maar het geslaap. Vanmôre het sy my gebel om advies en daarna die polisie. Die ‘geregsdienaars’ het na haar geluister, gekyk na die kartonboks waar ‘n splinternuwe skootrekenaar is was, gekyk na ‘n volledige palmafdruk van ‘n hand teen haar slaapkamermuur waar deur ‘n venster geklim is en hulle het sonder om enige nota te maak vir haar gesê dat die rekenaar splinternuut is en sy het dit reeds verloor. Daarna het hulle gery sonder om verklarings te neem en gesê sy moet dit by ‘n polisiestasie gaan rapporteer.

pieta ·

George, jy noem SEPTIESE toestand, ek dink dis alreeds septies verby…

NEL ·

Mense, ons het nie meer ‘n polisiemag nie, dit is ‘n klomp misdadegers. Of jy R10.00 eis van iemand vir ‘n guns of ‘n roof trek is om die ewe. Ons polisie mag is geklassifiseer as die beste in die wereld, hulle is op die misdaad toneel voorddat die misdaad gepleeg is………………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.