Ses ‘renosterstropers’ vas in Limpopo

Argieffoto

Argieffoto

Ses vermeende renosterstropers is die naweek in Limpopo in hegtenis geneem, het die polisie Sondag gesê.

“Die polisie in Limpopo het Saterdag ʼn reusedeurbraak gemaak toe hulle ses vermeende renosterstropers in Phalaborwa en Hoedspruit in hegtenis geneem het,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die polisie in Hoedspruit het Vrydag drie verdagte individue se bewegings nagespoor in die Krugerwildtuin. “Daar is deur die nag hulle gesoek en hulle is vroeg Saterdagoggend gewaar toe hulle in ʼn motor geklim het buite Lulekani,” het Mulaudzi gesê.

Die polisiebeamptes kon daarin slaag om die motor voor te keer en het drie verdagtes, insluitend die bestuurder van die motor, in hegtenis geneem. “Een van die verdagtes kon daarin slaag om te ontsnap en daar word na hom gesoek. Daar is ʼn .375-jaggeweer, ammunisie en ʼn byl in hulle besit gevind. Daar is ook op die voertuig beslag gelê.”

Mulaudzi het gesê die polisie in Phalaborwa het intussen ook inligting ontvang oor twee vermeende renosterstropers wat glo deur ʼn voertuig opgelaai is nadat hulle die Krugerwildtuin verlaat het. Die polisie kon daarin slaag om die voertuig op te spoor en twee verdagtes en die bestuurder van die motor in hegtenis te neem.

“Die polisie het op ʼn .303-jaggeweer, ammunisie, ʼn byl en die motor beslag gelê. In albei gevalle is daar nie op renosterhorings beslag gelê nie. Daar word egter tans ondersoek of enige renosters in die Krugerwildtuin gestroop is en of die verdagtes op pad was om renosters te gaan stroop,” het Mulaudzi gesê.

Die ses verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Paul ·

Jammer hulle is gevang, moes eerder net soos ‘n sak mielies opgelaai word.

Lizl ·

Wonder ek hoe sal die stropers voel as hulle die prooi is, gewond en ongewapend , en hulle word gelos in `n leeukamp? Met baiiieee honger leeus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.