Ses sterf in afsonderlike ongelukke

Die botsing in Pietermaritzburg. Foto: ER24

Die botsing in Pietermaritzburg. Foto: ER24

Paramedici van verskeie nooddienste het Donderdagmiddag en Vrydagoggend hul hande vol gehad met minstens vier noodlottige ongelukke waarin ses mense dood is.

In die jongste ongeluk is twee mense dood en een kritiek beseer toe ʼn bakkie en ʼn motor op die N3-snelweg tussen New England- en Marketweg in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, gebots het. “ʼn Man en vrou wat in die bakkie gery het, was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het. ʼn Man wat in die motor was, is in ʼn kritieke toestand na die Grey-hospitaal geneem,” het Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, gesê.

Die ongeluk naby Witbank. Foto: ER24

Die ongeluk naby Witbank. Foto: ER24

Twee vroue is in die vroeë oggendure dood en minstens 14 mense beseer toe die taxi waarin hulle gery het op die N12 naby Witbank in Mpumalanga gerol het. Bodasing het gesê die vroue, een in haar 30’s en een in haar 40’s, was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het. “Die bestuurder van die taxi en die ander passasiers het geringe tot matige beserings opgedoen. Hulle is na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling.”

Die Pinetown-botsing. Foto: ER24.

Die Pinetown-botsing. Foto: ER24.

Donderdagmiddag is ’n man, in sy 20’s, in ʼn kettingbotsing in KwaZulu-Natal dood. Volgens Bodasing was vyf voertuie in die kettingbotsing op die N3-snelweg naby Richmondweg in Pinetown betrokke. “Verskeie nooddienste is na die toneel ontbied. Die jong man was reeds dood toe hy ondersoek is. Minstens nege mense het ook besering opgedoen en van hulle het op die toneel rondgedwaal. Twee mense met geringe beserings en twee met ernstige beserings is na ʼn hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling en waarneming.”

Vroeër Donderdagmiddag is ʼn padwerker op die N2-snelweg in KwaZulu-Natal doodgery. Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die man en ʼn kollega was besig om kegels naby die Umvoti-tolplaza op te tel, toe ʼn voertuig hulle getref het. “Die man was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het. Sy kollega het ernstige beserings opgedoen. Hy is op die toneel gestabiliseer en na ʼn hospitaal geneem,” het Botha gesê.

Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongelukke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.