Ses sterf in busbrand: Vier in hof

Lede van die gemeenskap in die Praktiseer-landdroshof in Limpopo (6 April 2018). Foto: Verskaf

Vier verdagtes het Vrydag in die Praktiseer-landdroshof in Limpopo verskyn in verband met ʼn voorval Maandagaand waartydens ses mynwerkers in ʼn bus doodgebrand het.

Sipho Khumalo (28) is Woensdag in Driekop in hegtenis geneem, Aubrey Remos Tjie (35) is in Riba Cross in hegtenis geneem, Thabo Mokgala (33) is in Maandagshoek vasgetrek en Philimon Makwana (34) is in die Mohlake-gebied in hegtenis geneem.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê al vier verdagtes staan tereg op ses aanklagte van moord, poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging.

Hul medebeskuldigde, Kgaogelo Moime (29), het Donderdag in die Mecklenburg-landdroshof verskyn.

Die uitgebrande bus. Foto: SAPD

Al vyf verdagtes se saak is uitgestel tot 12 April wanneer hulle saam in die Mecklenburg-landdroshof sal verskyn vir hul formele borgtogaansoeke. Hulle sal in aanhouding bly tot dan.

Maroela Media het vroeër berig die vyf se inhegtenisneming kom ná ʼn voorval Maandagaand by die Driekop-busstasie buite Burgersfort waar mynwerkers opgelaai is om hul aandskof te begin. Die bus het omstreeks 20:00 by die stasie stilgehou toe twee onbekende verdagtes in die bus geklim het. Die verdagtes het ʼn vlambare vloeistof in die bus uitgegooi, dit aan die brand gesteek en vinnig uitgespring.

Die hele bus het onmiddellik vlam gevat met ongeveer 50 mense daarin. Van die passasiers kon daarin slaag om deur die vensters te ontsnap, maar ses mense het in die bus doodgebrand. Altesaam 28 mense is met brandwonde na ʼn hospitaal gehaas.

Volgens Mojapelo kan nog inhegtenisnemings moontlik volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.