Ses sterf in gru-botsing

Die motor se wrak. Foto: Verskaf

Ses mense is dood en drie is beseer toe twee voertuie laat Woensdagaand reg van voor op die N12-snelweg buite Potchefstroom in Noordwes gebots het.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het die trompop botsing tussen ʼn bakkie en ʼn motor sowat 15 km buite die dorp plaasgevind.

“ER24-paramedici en ander nooddienste is net voor middernag na die toneel ontbied. Die twee voertuie se wrakke is in die middel van die pad aangetref en het aansienlike skade tydens die botsing opgedoen,” het Meiring gesê.

Meiring het gesê ses insittendes was in die motor en drie in die bakkie. “Paramedici het die pasiënte ondersoek en bevind dat twee mans, ʼn vrou en twee kinders, vermoedelik tussen drie en vier jaar oud, veelvuldige beserings opgedoen het en geen tekens van lewe getoon het nie. Niks kon vir hulle gedoen word nie en hulle is op die toneel dood verklaar.”

Die sesde persoon in die motor, ʼn vrou, het kritieke beserings opgedoen. Sy is op die toneel behandel en met ʼn private mediese helikopter na die Lenmed-hospitaal in Randfontein geneem vir mediese behandeling.

“Drie mans is in die bakkie aangetref. Een man was reeds dood en die ander twee het matige beserings opgedoen.”

Die twee beseerde mans is op die toneel gestabiliseer en met ʼn ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling. Die ander man is op die toneel dood verklaar.

Die presiese omstandighede rakende die ongeluk is nog nie bekend nie. Owerhede was op die toneel om ondersoek in te stel.

Die bakkie se wrak. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gevaar ·

Ry gereeld daardie pad. Mense jaag verby ander voertuie. Gee nie om dat ander van voor kom nie. Ons moes al baie keer spoed verminder of na die geel lyn skuif, want die ou van voor ry net…

Bernard ·

Op daai pad is enige-iets moontlik. Mense respekteer deesdae in elk geval gladnie meer sperstrepe nie. Heel waarskynlik is dit weer ‘n geval van iemand wat ‘n sperstreep geignoreer het wat die kop-aan-kop botsing veroorsaak het.

Penellope Jones ·

Daar is geen respek meer vir ander padgebruikers, enige padreels, wettige maksimum spoed, niks.

Lena ·

Sjoe… Baie sleg. My pa sou gesê het: “Was dit nou nodig?”

Trieks ·

Mens wonder net altyd WIE die persone was wat in die ongeluk beseer of dood is. Kan dalk nog jou eie familie wees van wie se dood of beserings jy lees, maar jy besef dit nie. Seker juis om daardie rede dat name nie bekendgemaak word nie; dat familie eers ingelig kan word. Baie jammer en sterkte aan slagoffers se geliefdes.

Aaarde behoed ons kinders. ·

Ek weet dat baie studente vanaf Johannesburg daardie pad ry. Dis n ongelooflike gevaarlike pad. Ek was self al n paar keer in die moeilikheid op die pad waar daar geen verkeers wet toepassing is nie. Mense spoed lokvalle, alhoewel nodig, is nie verkeers wet veiligheid toepassing nie. Probeer om hierdie pad nie in die donker te ry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.