Ses sterf in gru-ongeluk buite Tzaneen

Die Ford het aan die brand geraak. (Foto: Limpopo Department of Transport and Community Safety/Facebook)

Ses mense is Saterdagaand buite Tzaneen in Limpopo dood in ʼn motorbotsing. Een van die motors het volgens berigte onmiddellik aan die brand geraak.

Owerhede het roekelose bestuur as een van die moontlike redes vir die gru-ongeluk aangegee.

Die provinsie se departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid sê twee motors het Saterdag op die R71 naby die Letsetele-Letaba-aansluiting buite Tzaneen gebots.

“Die bestuurder van ʼn Ford-sedan het na bewering beheer oor sy voertuig verloor en reg van voor teen ʼn aankomende Volkswagen gebots voordat dit aan die brand geraak het,” sê die departement.

Die bestuurder van die Ford is deur veiligheidspersoneel van ʼn nabygeleë vulstasie uit die brandende motor gehaal. Hy is op die toneel dood verklaar.

Al vyf insittendes van die Volkswagen is ook op die toneel dood verklaar. Die oorledenes is almal tussen die ouderdom van 35 en 50 jaar.

(Foto: Limpopo Department of Transport and Community Safety/Facebook)

In ʼn ander ongeluk in dieselfde omgewing het ʼn 19-jarige passasier die lewe gelaat toe die bestuurder van ʼn Toyota beheer oor die motor verloor het en dit omgeslaan het.

Mavhungu Lerule-Ramakhanya, LUR van vervoer en gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het haar innige meegevoel met die families van die oorledenes betuig.

“Ek doen ʼn beroep op alle motoriste om binne die spoedgrens te hou.”

Sy het bygevoeg dat voorkoms van ongelukke wat oor die naweke in die vroeë oggendure gebeur, uiters kommerwekkend is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Delia ·

Daai kruising is n kruising van die dood. Mense jaag dood eenvoudig oor. Baie gevaarlik. Het dit vir 10 jaar gery met my kinders in die skool

Hannelize ·

Die hele R71 van af Phalaborwa tot Polokwane is ‘n ongeluk wat plek soek om te gebeur. Die mense ry dood eenvoudig net soos hulle wil. Vat verby soos hulle wil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.