Ses sterf op Moloto-pad toe bus brand

Bus brand op Moloto-pad (21 Mei 2021) (Foto verskaf deur Tshwane-nooddienste)

Minstens ses persone is Vrydagmiddag dood toe ʼn bus op die berugte Moloto-pad aan die brand geslaan het. Altesaam 57 pendelaars het verskeie beserings opgedoen.

Thabo Charles Mabaso, woordvoerder van Tshwane-nooddienste, het gesê die oproep van ʼn bus wat aan die brand geslaan het op die Moloto-pad, net ná Roodeplaatdam, het omstreeks 13:50 ingekom.

“Brandbestryders het 14 pasiënte op die toneel gevind. Van die pasiënte is reeds deur privaat ambulanse en nooddienste na hospitale geneem,” het Mabaso bygevoeg. Van die 14 pasiënte het 11 geringe beserings opgedoen, twee het matige beserings opgedoen en een vroulike pasiënt is met ʼn helikopter na Milpark-hospitaal geneem in ʼn kritieke toestand.

Ná die brand het brandbestryders op verkoolde menslike oorskot afgekom. “Met verdere ondersoek het hulle bevind dat ses van die pendelaars onherkenbaar verkool het.”

Die bestuurder van die Putco-bus het aan brandbestryders gesê hy was besig om te bestuur toe hy in kennis gestel is dat die bus brand. Hy het dadelik stilgehou. “Volgens hom was 63 pendelaars van Marabastad in Tshwane na Tweefontein in Mpumalanga op pad.”

Foto verskaf deur Tshwane-metropolisie

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. Die oorledenes is nog nie geïdentifiseer nie.

Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê die R573 was Vrydagmiddag gesluit. Motoriste is aangeraai om die Moloto-pad te vermy en alternatiewe roetes te gebruik.

Die Gautengse departement van paaie en vervoer, het intussen gesê die departement versoek ʼn ondersoek na die voorval. LUR Jacob Mamabolo het alle betrokke wetstoepassers versoek om ʼn deeglike ondersoek van stapel te stuur. “Slegs feite oor die oorsake van dié tragiese voorval sal families berusting bring,” het Mamabolo gesê. Hy betuig sy innige meegevoel met die families en geliefdes van diegene wat gesterf het en wens ʼn spoedige beterskap toe aan dié wat beserings opgedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tipper

wees versigtig.

DieKriek

Ek ry feitlik elke dag 40 km op die Molotopad heen en weer. Dis afgryslik hoe baie Putco busse aan die brand raak. Ek het al verskeie kere n venster vol olie gekry deur agter n bus te ry. Was ook al n paar keer agter n bus waarvan die enjin aan die brand was. Hoekom doen Putco niks aan die probleem nie? Dis hartseer verby dat hierdie mense wat geen ander vervoer het nie, so moet ly.

Tanniepetoors

Die Putco busse wat mens in die Pretoria-omgewing sien is in die algemeen baie oud en in ‘n swak toestand. Omtrent almal ry met oop enjinkappe. Die goed rook soos stoomtreine. Die arme pendelaars het geen ander keuse as om van hierdie busdiens gebruik te maak nie. Ek het sterk bedenkinge oor die busse se padwaardigheid.

Smurfy

Dankie aan APA ambulans dienste se vinnige optrede. So ook Kameeldrift Trauma Support,
GPF, plaaslike Brandspan en die gemeenskap. Jul onbaatsugtige hulp word opreg waardeer.

Miskruier

Die mense het seker maar probeer al hul bagasie verwyder wat die paadjies volstaan.