Ses sterf op Mpumalanga-paaie

Argieffoto

Terwyl talle reisigers huiswaarts keer ná die langnaweek, is ses mense Sondagmiddag dood in drie afsonderlike voorvalle op paaie in Mpumalanga.

Joseph Mabuza, woordvoerder van Mpumalanga se departement vir gemeenskapsveiligheid en sekuriteit, het gesê die eerste voorval het omstreeks 14:15 op die R573 (Moloto-pad) naby Mabhoko gebeur. Volgens Mabuza het ʼn VW Jetta in die rigting van KwaMhlanga gereis tot dit reg van voor teen ʼn motor gebots het wat van die teenoorgestelde rigting af gekom het.

Volgens Mabuza is die bestuurder en ʼn passasier in die Jetta op slag dood, terwyl ʼn tweede passasier ernstige beserings opgedoen het. ʼn Passasier in die ander motor het ook op slag gesterf, terwyl die bestuurder van dié motor en nog ʼn passasier met ernstige beserings na ʼn hospitaal gehaas is.

Die pad was ʼn ruk lank gesluit en verkeer is herlei terwyl die ongelukstoneel opgeruim is.

Enkele ure daarna was daar nog ʼn noodlottige ongeluk op die N4 tussen die Bethal- en Vandyksdrift-afrit toe ʼn motor met vyf insittendes omgeslaan het. Volgens Mabuza het die ongeluk omstreeks 18:30 gebeur.

Die bestuurder en een van die passasiers is op slag dood, terwyl drie ander passasiers ernstig beseer is. “Die rede hoekom die bestuurder beheer oor die motor verloor en dit omgeslaan het, is nog nie bekend nie,” het Mabuza gesê.

In dieselfde tyd is twee voetgangers by die Dalmanutha-wisselaar op die N4 deur twee verskillende voertuie raakgery.

“Daar word beweer twee voetgangers is deur ʼn voertuig afgelaai wat hulle ʼn saamrygeleentheid van Belfast af gegee het. Die voetgangers was glo dronk en het probeer om die pad oor te steek. Een is deur ʼn Isuzu-bakkie raakgery en het op die toneel gesterf. Die ander is deur ʼn Toyota Corolla raakgery en het ernstige beserings opgedoen,” het Mabuza gesê.

Die onderskeie voorvalle word deur die owerhede ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.