Ses sterf tydens Oujaarsdag-ongeluk

(Foto verskaf deur ER24)

Ses mense, insluitend vier kinders en twee volwassenes, is Vrydag dood in ʼn ongeluk op die N1 in Mokopane (Potgietersrus), ongeveer 55 km buite Polokwane (Pietersburg).

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het omstreeks 12:15 by die toneel opgedaag. Die provinsiale nooddienste en brandweer was reeds op die toneel.

“ʼn Bakkie is in ʼn enkelbaan gevind, ʼn vragmotor het onderstebo langs die pad gelê.”

Twee volwassenes en vier kinders in die bakkie het reeds aan hul veelvoudige beserings omgekom. Paramedici kon nie enigiets vir hulle doen nie en hulle is deur die provinsiale nooddienste dood verklaar.

Nog twee mans, vermoedelik in hul 50’s, was in die vragmotor vasgekeer. Hulle het kritieke beserings opgedoen. “Die brandweer moes van meganiese toerusting gebruik maak om hulle uit die wrak te bevry. Hulle is na die Voortrekker-hospitaal geneem vir dringende behandeling.”

Die omstandighede rondom die voorval is nog nie bekend nie. Plaaslike owerhede stel ondersoek in.

Die N1 is tydelik gesluit en motoriste in die rigting van Limpopo is versoek om van die R101-afrit by Nylplaza gebruik te maak. Motoriste wat in ʼn suidelike rigting ry, is versoek om die R101 van Polokwane gebruik te maak en by die Nylplaza weer op die N1 aan te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.