Ses stropers in Limpopo aangekeer

Argieffoto

Argieffoto

Ses vermeende renosterstropers is oor die naweek in twee afsonderlike voorvalle in Limpopo in hegtenis geneem.

Volgens kol. Ronel Otto, ʼn polisiewoordvoerder, is drie persone in Hoedspruit aangekeer. “ʼn Veiligheidswag het vreemde voetspore by die Klaserie-wildreservaat opgemerk en die polisie ontbied,” het Otto gesê. “Die wag en die polisie het drie verdagtes opgespoor en hulle in hegtenis geneem. Die verdagtes het ʼn hoëkaliberjaggeweer, knaldemper, pistool, ammunisie, byl en vier selfone by hulle gehad.”

Ntiyiso Ngobei (26), Edwards Shai (40) en Lawrence Malatji (42) van Phalaborwa het Maandag in die hof in Hoedspruit verskyn op aanklag van oortreding en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie. Die saak is tot 18 September uitgestel vir verdere ondersoek.

Nog drie verdagtes is op ʼn plaas in die Vaalwater-omgewing in hegtenis geneem. “Die polisie het op inligting reageer en ʼn verdagte voertuig opgespoor wat mense langs die plaas afgelaai het,” het Otto bygevoeg. “Die voertuig is afgetrek en deursoek. Die polisie het beslag gelê op ʼn jaggeweer, ammunisie en ʼn byl.”

Die drie insittendes is in hegtenis geneem. “Twee mans kon daarin slaag om te ontsnap en die polisie is steeds na hulle op soek.”

Die verdagtes moet Donderdag in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theresa ·

“Onthoring” die stropers en los hulle op ‘n miershoop…………………

Paul ·

Dit is jammer die Boere het nie die stropers eerste gekry nie want dan was die resultate soveel meer positief want met die polisie betrokke is die dieremoordenaars binnekort weer op vrye voet met hul eie toerusting en kry hulle weer die ko-ordinate van waar die renosters hulle bevind van die skelm veldwagters en polisie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.