Ses ‘stropers’ vas toe hulle op plaas toesak

Argieffoto ter illustrasie. (SANParke)

Ses vermeende stropers is Sondag in hegtenis geneem op aanklagte van poging tot moord nadat hulle glo ’n sekuriteitswag en werknemer van ’n plaas naby Louwsburg in KwaZulu-Natal aangerand het toe dié twee die boosdoeners op die plaas betrap het.

Izak Kirsten, eienaar van die plaas Kliprif, het Maandag aan Maroela Media gesê die groep het uit sowat 30 vermeende stropers bestaan wat in kleiner groepe verdeel het toe hulle gisteroggend omstreeks 07:30 met vuurwapens, knopkieries, pangas en talle honde sy plaas betree het met die doel om onwettig te jag.

Kirsten besit Madaka Game Ranch en het Kliprif onlangs gekoop om ook as wildsplaas te ontwikkel. Hy vertel dat hy oor die afgelope drie jaar sowat 30 voorvalle van stropery by die polisie aangemeld het. Die laaste groot voorval het sowat twee jaar gelede, óók op Kliprif, gebeur waarna dit ’n ruk lank beter gegaan het, verduidelik hy.

Dít was egter tot Sondagoggend toe sekuriteitswagte hom laat weet het dat hulle onbekende mans op dié plaas gewaar het.

Volgens Kirsten het hy sy personeel versoek om ondersoek in te stel namate die mans al nader beweeg het. Die sekuriteitswagte het later laat weet dat daar moontlik 20 mans op die plaas beweeg en Kirsten het die plaaslike polisie ontbied.

Polisiebeamptes het sowat ’n uur later opgedaag waarna hulle saam met een van die sekuriteitswagte en nog ’n werknemer die stropers agternagesit het. “Dit is ’n digte gebied en die stropers het [in dié stadium] hoegenaamd nie geweet dat ons van hulle weet nie,” verduidelik Kirsten.

Dit het later duidelik geword dat die stropers in verskillende groepe verdeel het en een van dié groepe het die sekuriteitswag, werknemer en van die polisiebeamptes in die veld voorgekeer waarna ’n konfrontasie ontstaan het. Skote is afgevuur en een van die stropers se honde is in die kruisvuur doodgeskiet. Dit is tóé dat die groep die sekuriteitswag takel, sê Kirsten.

Hoewel die sekuriteitswag nie die voorval kan onthou nie, kan hy wel onthou dat van die stropers gedurende hierdie tyd ’n vuurwapen teen sy kop gehou het. Hy is ook in die ribbes geskop en sy been is gedurende die struweling gebreek. Hy is herhaaldelik geslaan voordat een van die stropers, wat die sekuriteitswag herken het, eindelik ingegryp het.

Die ander werknemer is oor sy kop geslaan en geskop. “Die motorfietse waarmee [my werknemers] gery het, is ook flenters geslaan,” vertel Kirsten.

Die plaaseienaar het in dié stadium verneem dat sy werknemers deur die stropers oorrompel en aangerand word waarna hy nog polisiestasies asook verskeie boereverenigings in die gebied se hulp ontbied het. Die verdagtes het laat spaander toe hulle deur verskeie boere en polisiebeamptes gekonfronteer is. “Dit klink vir my hulle het aangehou tot hulle gesien het daar is ’n magdom boere en polisie, en toe eers weggehardloop het,” verduidelik hy.

Ses van die verdagtes kon egter nie daarin slaag om weg te kom nie en is op die plaas in hegtenis geneem.

“Dit was duidelik ’n georganiseerde jagtog, helder oordag op ’n Sondag. Hulle het gedink niemand gaan daar wees nie en het besluit hulle gaan niemand duld wat hulle sou probeer keer nie.”

Volgens Kirsten is ’n rietbok-ooi gedurende die onwettige jagtog gejag. Die bok is vermoedelik deur honde doodgebyt. “Dit is ’n beskermde spesie en jy het ’n permit nodig om een te jag,” verduidelik hy.

Die sekuriteitswag en werknemer, wat ná die voorval in die hospitaal opgeneem is, het ook vlakvarke hoor skree wat moontlik deur die stropers se honde gebyt is.

“Ek het niemand herken wat in hegtenis geneem is nie en vermoed dit is ’n sindikaat se werk. Hulle kom van buite, vanuit die stad, met hulle honde. Hierdie honde was goed versorg en goed opgelei. Hulle was daar om te jag,” sê hy.

Op die vraag of die verdagtes moontlik ou hande in stropery kan wees, antwoord Kirsten dat daar geen twyfel daaroor is nie.

“Ons het in vorige gevalle groot skade gehad waar oor die 200 m lyndrade geknip is en oor die 150 blesbokke en 30 elande uit die plaas gejaag is. In die afgelope drie jaar was daar nog geen sprake van inhegtenisnemings nie. Hulle het gekom met die houding dat hulle onaantasbaar is.”

Dit is wel die eerste keer dat iemand in so ’n voorval beseer is, verduidelik Kirsten.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

Volgens Gwala is die verdagtes wat in hegtenis geneem is tussen 19 en 54 jaar oud. Die res van die groep is steeds soek.

Die verdagtes in aanhouding sal binnekort in die Louwsburg-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Henneman ·

Kan ek so paar van daai bedrygte swartpens bokke kom skiet Sondae?

Cherokee ·

Daardie bokke is nie bedrygte diere soos jy dink nie Henneman. Eintlik is geen diere is Suid Afrika op die bedrygte lys nie. (as daar so lys sou wees)

Rooi Jan ·

Nee Man jinne Hennie jy moet stadig en met begrip lees. Dit is die rietbok wat n beskermde spesie is wat gejag is waaroor in die artikel geskryf word.

ne ·

Jammer julle het hulle nie almal gekry nie. In die vorige bedeling sou hulle sing soos mossies om die res se name bekend te maak. Maar nou is hulle mos kroonwild – onaantasbaar.

PJC ·

Hoekom kan hierdie stropers en hul honde nie summier geskiet word wanneer hul gewapen is nie?

Piesang ·

Selfde storie sedert 200 jaar gelede by die oosgrens. Nog niks verander nie, behalwe dat hulle nou die geriewe van die westerse wêreld het en dat die boere feitlik magteloos staan.

jennefer ·

Hier om Modimolle raak dit al hoe erger, dis baie keer kinders wat kom jag.

Merie Perd ·

Die polisie vat lank om op te daag?
In Alberton het n huis nou die dag afgebrand.
Die brandweer wat skaars 15 min ver is het amper n uur na die brand ontstaan het opgedaag. Die verskoning wat ek gehoor het was dat hulle nie telefone gehad het nie. Bid jou aan, nooddienste sonder fone. Ek verstaan een van die sekuriteits maatskappye se manne het gery om die brandweer van die brand in kennis te stel. Toe die brandweer opdaag en hulle die waterlyne aan die eenheid in die straat wou koppel, was die waterpyp droog. Wat n gemors.

Kerrie Vlamskiet Briekstreep ·

.
.
Gaan kyk gerus die dokumentêr “Africa Addio”.
.
.

jean ·

Wat weet hulle van “beskermende spesies”……Hulle neem wat hulle wil en wanneer hulle wil Wat die polisie betref..ons weet mos nou al hoe dinge werk. Kry die “boogmanne” bymekaar….stil en dodelik.

Bekommerd ·

Hulle kom uit die stad en is ‘n misdaadsindikaat, maar die sekuriteitswag is herken deur een van die booswigte wat toe ingegryp het??? Nee wat, weer inside job deur die sekuriteitswag. Hy is toe deur sy eie makkers aangerand. Hoe kan die boer dit nie besef nie! Al die aanvalle is inside jobs!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.