Ses tronk toe vir hondegevegte

Beamptes van die DBV tydens ‘n vroeëre hofverskyning. (Foto: AfriForum)

Waarskuwing: Die foto onderaan die berig kan sommige lesers ontstel.

Ses mans wat skuldig bevind is aan oortredings wat verband hou met hondegevegte en wreedheid teenoor diere is tronkstraf opgelê, het die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) Maandag gesê.

“Kamogelo Mpiyane, Tshepo Aubrey Sejabatho, Enos Makhamatha, Jabu Phillip Mabena en Samuel Mashilo Mothiba is gevonnis tot twee en ʼn half jaar direkte tronkstraf vir die aanhou van honde vir gevegte, asook die feit dat hulle die honde in vuil omstandighede aangehou het en hulle van mediese sorg ontneem het. Geen gedeelte van die tronkstraf is opgeskort nie en hulle het ook nie die opsie gehad om ʼn boete te betaal nie,” het Wendy Wilson, ʼn senior inspekteur van die NDBV, gesê.

Die Atteridgeville-landdroshof in Pretoria het die saak aangehoor nadat 14 Amerikaanse veghonde verlede jaar gered is.

Wilson het gesê Mabena is voorts gevonnis vir ʼn verdere ses maande vir die marteling van die hond genaamd Mia.

“Mia is in ʼn koue donker kamer aangehou en is so styf aan die dakbalke vasgemaak dat sy nie kon plat lê nie. Sy was siek weens infeksie en kon nie eens by water uitkom nie,” het Wilson gesê.

Sy het gesê die landdros het tydens vonnisoplegging die misdade “sinloos” en “pervers” genoem en bygevoeg dat die mans se vonnisse moet dien as ʼn waarskuwing aan ander wat by hondegevegte en verwante aktiwiteite betrokke is.

Nog ʼn man, Samuel Ribane, is gevonnis tot 12 maande direkte tronkstraf omdat hy ʼn hondegeveg bygewoon het. Die landdros het gesê Ribane het genoeg tyd gehad om hom van die misdadige bedrywighede te distansieer, maar het gekies om dit nie te doen nie.

Hoewel die mans skuldig gepleit het, is die feit dat hulle tronkstraf opgelê is ʼn “gedeelde gevoel in Suid-Afrikaanse howe” dat hondegevegte nié geduld sal word nie, het Wilson gesê.

“Net vanjaar is 12 misdadigers tronkstraf opgelê wat wissel tussen 12 maande en vyf jaar vir hulle deelname aan bedrywighede wat met hondegevegte verband hou,” het Wilson gesê.

Die NDBV se spesiale ondersoekeenheid het reeds die skuldigbevindings van 50 mense wat met honde veg verseker en talle is nog verhoorafwagtend.

Wilson het gesê die NDBV en die eenheid maak staat op die voortgesette steun van die publiek en organisasies soos DogTrust Worldwide, wat besef hoe belangrik dit is om die misdaad wat hondegevegte is te stuit.

Een van die betrokke honde. (Foto: verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
kallie

Bravo aan hierdie landdros. Ek is so dankbaar dat daar nog mense is wat sien dat hierdie sinnelose mishandeling tot ‘n end moet kom. Ek word yskoud as ek dink wat die honde moes deurmaak. Die strawwe kan swaarder gemaak word.

riaan

seker n lekker surprise gewees toe hulle tronk sraf kry,gedink dalk net n boete dan gaan ons net weer aan,hahaha kry vir julle.

lilly

Dis verskriklik dat mense dink hulle kan God se skeppingsdiere so behandel en net maak wat hulle wil. Hulle sal eendag verantwoording moet doen hiervoor.

Julie Jansen van Rensburg

My jongste wat in dieselfde kompleks as ek en haar broer bly het sowat 2 – 3 jaar gelede ‘n veghond by ‘n plek gekoop wat veghonde rehabiliteer – hierdie pragtige Belgiese herdershond was een van vele wat uit die kloue van sulke gemors gered was. Skyler -soos die hond heet – is stadigaan besig om haar vertroue in mense te herwin – en haar enigste vrees nou is vir swaar weer (maar so is twee van my “honnekinners”) en wanneer ek na my dogter toe gaan is dit verblydend om te sien dat Skyler my toelaat om haar te… Lees meer »

Charlie

As daar so ‘n ophef gemaak word oor die wrede oortredings, waarom is die straf so lig ??