Ses van gesin sterf in ‘bylmoorde’

(Argieffoto: Kent Williamson)

Die liggame van ʼn ma en haar vyf kinders is Donderdagaand in ʼn huis in Kwaaiman in die Oos-Kaap aangetref waar hulle vermoedelik met ʼn byl vermoor is.

Die provinsiale polisiebestuur het sy skok met die voorval te kenne gegee en dit as “koelbloedig” bestempel.

Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, het gesê volgens die voorlopige ondersoek is die polisie ontbied nadat bure van die gesin onraad vermoed het.

Die slagoffers is die 42-jarige ma en haar kinders tussen ses maande en tien jaar oud.

“ʼn Byl wat op die toneel gevind is, is vermoedelik gebruik om die moorde mee te pleeg,” het Kinana gesê.

In hierdie stadium is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Volgens Kinana het die oorlede vrou se man, ʼn Zimbabwiër, sedertdien spoorloos verdwyn. Die polisie glo hy kan in die ondersoek na die moorde help.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiehoof, het die voorval as verpletterend bestempel. “Dit is ondenkbaar dat aan die aanvang van die 16 dae van aktivisme [teen geweld teen vroue en kinders], ons wakker word met so ʼn verskriklike en ontstellende voorval.

“Wie ook al verantwoordelik is vir hierdie grusame en hartelose moorde, moet sonder versuim opgespoor word,” het Ntshinga gesê.

Sy het ook opdrag gegee dat die polisie se 72 uur-plan in werking gestel word sodat hulpbronne beskikbaar is om momentum aan die ondersoek te gee.

Enigeen met inligting oor die voorval of wat weet waar die man hom in hierdie stadium bevind, kan die Stop Misdaadnommer, 08600 10111, skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

antieklimaks ·

“Dit is ondenkbaar dat aan die aanvang van die 16 dae van aktivisme [teen geweld teen vroue en kinders], ons wakker word met so ʼn verskriklike en ontstellende voorval.” Het hulle gedink dat mense wat hulle mans/vrouns wil slaan of mishandel of vermoor dan sal wag tot die 16 dae verby is?

Cherokee ·

Soos Antie sê, wreedheid mag nooit wees nie. Nie slegs vir 16 dae gestaak word, maar permanent.

Niklaas ·

Lyk nie asof mense in hierdie land ag slaan op die president se plan om geslagsgeweld hok te slaan nie. Dit val maar soos altyd op dowe ore.

Casper ·

Mense het lankal nie meer respek vir die regering of die president of die polisie nie.Ek sê weer soos in al my ander kommentaar geen borg en geen parool en laat lewenslank lewenslank wees.

Hennie ·

As die ANC regering nie nou daadwerklik optree nie, gaan ons land in anargie verval!

Yvonne ·

Hennie, ek dink dit is al lankal die geval….wat ons nou beleef is die resultaat en gaan waarskynlik nog erger word…..tragiese gebeure

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.