Ses van polisie vas in teenkorrupsie-optredes

(Foto: SA Polisie)

Drie polisiebeamptes is in hegtenis geneem vir die beweerde diefstal van geld en sigarette terwyl die verbod op sigaretverkope nog ingevolge die afsonderingsregulasies gegeld het.

Brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het gesê die polisie se teenkorrupsie-eenheid het die polisielede die afgelope week op aanklagte van diefstal en regsverydeling in hegtenis geneem.

Die polisielede, verbonde aan die eenheid vir sigbare polisiëring, het ʼn sakeman in April in die Tongaatse sakegebied daarvan beskuldig dat hy ten spyte van die verbod sigarette verkoop.

Hulle is in ʼn stoorkamer in en het glo geld en sigarette daaruit geneem. Die man het ʼn saak van diefstal by die Tongaat-polisiestasie aanhangig gemaak en dit is aan die teenkorrupsie-eenheid vir ondersoek toegewys.

Twee adjudant-offisiere, onderskeidelik 39 en 48 jaar oud, asook ʼn 36-jarige konstabel, is daarna in hegtenis geneem. Hulle het Donderdag in die Verulam-landdroshof verskyn en is vrygelaat op borgtog van R3 000 elk. Die saak is tot Oktober uitgestel.

In ʼn onverwante voorval is drie polisielede van Durban óók van diefstal en regsverydeling aangekla en gewaarsku om in September weer in die hof te verskyn.

Die polisielede moes glo in Julie verlede jaar voldoeningsinspeksies in Illovo doen. Drie taverne-eienaars het die polisiebeamptes daarvan beskuldig dat hulle tydens die besoeke geld en sigarette gevat het waarvoor hulle nooit rekenskap gegee het nie.

Die provinsiale teenkorrupsie-eenheid het hulle ook in hegtenis geneem.

Die provinsiale polisiehoof, lt.genl. Khombinkosi Jula, het die inhegtenisnemings verwelkom.

“Ons bly verbind daartoe om die polisiediens skoon te maak en wil ons dankbaarheid betuig aan die burgers wat die beweerde korrupsie onder ons aandag gebring het,” het Jula gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hans ·

Hulle sal moet ophou met hierdie heksejag, of een van die dae het ons nie meer n polisiemag nie

Dirk Mostert ·

Sal dan baie geld spaar aan salarisse. Gebruik liewers “drones”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.