Ses vas ná rooftog by klerewinkel

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Ses verdagtes, tussen 24 en 31 jaar oud, sal Dinsdag in die Lichtenburg-landdroshof in Noordwes verskyn nadat hulle glo ʼn klerewinkel in die dorp beroof het.

“Die persone word daarvan verdink dat hulle Vrydag die 40-jarige vrou en haar kollegas beroof het,” het maj. Pelonomi Makau, woordvoerder van die polisie, gesê. “ʼn Onbekende bedrag kontant, en klere en selfone ter waarde van R224 000 is gesteel. Die verdagtes het in ʼn Toyota Quantum met vervalste nommerplate van die toneel gevlug.” Niemand is tydens die voorval beseer nie.

Volgens Makau is die polisie in kennis gestel van die diefstal en hulle het die verdagtes agternagesit. “Die verdagtes is in Burgersdorp naby Lichtenburg voorgekeer en deursoek. Die beamptes het beslag gelê op al die klere en selfone, maar die kontant wat gesteel is en vuurwapens wat tydens die rooftog gebruik is, is nog soek.”

Die verdagtes is glo almal van Soweto in Gauteng en hul medepligtiges het na bewering in ʼn Volkswagen Jetta en Toyota Conquest met die vuurwapens gevlug.

“Die polisie sal ondersoek instel om te bepaal of die verdagtes aan enige ander sake verbind kan word,” het Makau bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Neptunus ·

Dit klink nogal verdag. Hoop nie die SAPD het die geld “verloor” nie. Soos daardie miljoene wat destyds uit hul eie kluis verdwyn het in Gauteng. Enigiets is moontlik.

Chris ·

Hmm dit is nou baie snaaks, hulle kry die selfone en die klere terug maar die geld het soos mis voor die son verdwyn. Hoe kan dit wees? Ek dink die polisie beamptes het lang vingers,

CHRISTA ·

Genade, hulle ry ver om hulle rooftog uit te voer!! Is Gauteng dalk al bankrot gesteel? Of het Gauteng net nie meer so baie om te steel nie agv die feit dat die meeste van ons land se belasting uit Gauteng kom en nou moet hulle nog opdok vir tolgelde!! Wat ‘n grap!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.