Ses vas ná wilde jaagtog deur Durban

Die vuurwapens waarop die polisie beslag gelê. Foto: SAPD

Die vuurwapens waarop die polisie beslag gelê. Foto: SAPD

Ses vermeende rowers is Donderdag in Durban in hegtenis geneem ná ʼn wilde jaagtog en oor-en-weer-skietery met die stad se polisie en metropolisie.

Maj. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê drie gewapende mans het omstreeks 14:00 ʼn 30-jarige vrou in haar snoepwinkel in Verulam oorval en beroof. “Die verdagtes het ʼn onbekende hoeveelheid kontant, lugtydkoepons en sigarette gesteel voordat hulle te voet gevlug het,” het Zwane gesê.

Omstanders het gesien die verdagtes het met ʼn blou VW Polo, waarin drie persone gesit het, uit die gebied gejaag.

ʼn Saak van besigheidsroof is by die Verulam-polisie aanhanging gemaak.

Zwane het gesê kort nadat die voorval aangemeld is, is ʼn beskrywing van die voertuig en in watter rigting dit weggejaag het, deur die polisie se kanale versprei. “Die voertuig is daarna op die N2-snelweg opgemerk en die Verulam-polisie, Durban-Sentraal se snelwegpatrollie en metropolisie het dit agternagesit.”

Die verdagtes het op die snelweg op hul agtervolgers losgebrand en die beamptes het teruggeskiet. Niemand is in die skietery gewond nie. Die polisie kon daarin slaag om die verdagtes van die pad af te trek, waarna die ses persone in hegtenis geneem is.

“Drie ongelisensieerde vuurwapens wat vermoedelik in die rooftog gebruik was, kontant en lugtydkoepons is in die verdagtes se besit gevind,” het hy bygevoeg.

Die verdagtes moet binnekort in die Verulam-landdroshof verskyn op aanklagte van besigheidsroof en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dave ·

Dit is wat modernisasie beteken; in die Wilde Weste is van perde af op kroeks geskiet (arme perde!). Nou het die perde meganies geword al lyk sommige sjebeens steeds dieselfde.

ladybug ·

So arrogant!!!! Wel gedaan SAPS! net jammer die gemors haal nog asem!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.