Ses vas oor diamant-diefstal

Argieffoto

Argieffoto

Ses mense is in hegtenis geneem nadat drie diamante van ʼn myn naby Prieska in die Noord-Kaap gesteel is.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep van 16 mans het Maandagoggend omstreeks 03:40 veiligheidswagte en personeel by die myn oorval.

“Die groep het ʼn bestuurder van ʼn mynvragmotor by die diamantmyn naby die dorp genader,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, Dinsdag gesê. “Hulle het ʼn vuurwapen op hom gerig, hom uit die vragmotor gedwing, hom aangerand en vasgebind.” Die bestuurder van die myn het intussen in ʼn maatskappymotor opgedaag en hy is ook oorval en vasgebind.

“Die rowers, wat nou die twee mynvoertuie gehad het, het na die myn bestuur en op ʼn bestuurder in ʼn voorkantlaaier afgekom en met die vragmotor in hom vasgery,” het Mulaudzi verduidelik. “Een van die mans het op die voorkantlaaier se battery geskiet nadat die bestuurder wou wegry. Hulle het ook op die bestuurder geskiet, maar gemis.”

In die myngebou het hulle ʼn swart kluis gevind en dit oopgeblaas. “Hulle het drie diamante gesteel,” het hy gesê. “Die waarde is nog nie bekend nie.”

Mulaudzi het gesê die polisie is nog op soek na die ander verdagtes en die diamante.

Die ses persone, tussen 27 en 50 jaar oud, is Maandag en Dinsdag in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting binnekort in die Prieska-landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op aanklag van aanranding, poging tot moord en besigheidsroof.

Lees alle vorige berigte oor Prieska op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.