Ses vas oor korrupsie by toetssentrum

Argieffoto

Ses mense is Donderdag in hegtenis geneem by ʼn voertuigtoetssentrum in Mamelodi in die ooste van Pretoria.

Simon Zwane, die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) se woordvoerder, het gesê die inhegtenisneming van die ses verdagtes, drie vroue en drie mans, hou verband met beweerde bedrog en korrupsie.

“Hulle is vasgetrek toe lede van die RTMC se nasionale teenkorrupsie-eenheid, die Suid-Afrikaanse Polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad en die Gautengse verkeerspolisie ʼn klopjag op dié toetssentrum wat in private besit is, uitgevoer het,” het Zwane gesê.

Zwane het gesê nog vier verdagtes, onder wie die sentrum se bestuursverteenwoordiger, word gesoek ná aantygings dat hulle glo die onwettige uitreik van padwaardigheidsertifikate vir voertuie wat nie fisiek by die toetssentrum was nie, gefasiliteer het.

“Ander aantygings teen die verdagtes is dat hulle onwettig die identiteitsdokument van een individu gebruik het om verskeie padwaardigheidsertifikate mee uit te reik,” het Zwane gesê.

Volgens Zwane het die betrokke individu, wat aan die ondersoekbeamptes bekend is, blykbaar toestemming gegee dat sy ID gebruik word.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van bedrog en korrupsie.

Volgens Zwane is die Mamelodi-toetssentrum die vierde sentrum sedert Desember wat ondersoek is weens aantygings van bedrog en korrupsie wat verband hou met die onregmatige uitreiking van padwaardigheidsertifikate.

Hy het gesê 15 verdagtes is by dié sentrums in Clayville, Temba en Sebokeng in hegtenis geneem.

“Onpadwaardige voertuie is ʼn reuserisiko op die paaie. Die RTMC het die stryd teen bedrog en korrupsie by dié sentrums as prioriteit verklaar in ʼn poging om veiligheid op die paaie te verbeter en ongelukke, beserings en sterftes te verminder,” het Zwane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

DIS ORALS ·

Dit laat my net wonder hoeveel persone met ‘fake’ lisensies sit wat hulle nooit deurgekom het nie? Dit is nie die eerste keer dat beamptes by die toetssentrums vasgetrek word nie. Dit is so verkeerd dat sekere van ons se kinders ‘n paar keer moes teruggaan om die praktiese eksamen te doen vir ‘n foutjie wat hulle elke keer uitgewys het wat nie eers so was nie .. en dan verkoop hulle aan mense wat glad nie kan bestuur nie ‘n bestuurslisensie, en in hierdie geval padwaardigheidsertifikate vir voertuie wat nie eers padwaardig is nie. Waar gaan hierdie bedrog ooit eindig?

Speedguard ·

@ DIS ORALS, ongelukkig sal dit NOOIT eindig nie, was self in die situasie, het dit male sonder tal aan die sogenaamde Bestuurders en selfs die departement van Vervoer ingelig, die gevolg, ek sit toe in ‘n japtrap sonder werk en is ‘n “Mpimpi”

christa ·

die hele land is deurtrek met korrupsie. Dis vanselfsprekend, ek het dit nie anders verwag nie

Jacques venter ·

Die terrein opsigter wat gewoonlik ons karre parkeer het. Moes 5 jaar gelede R2500 vir sy rybewys betaal. En dit is n persoon wat baie goed kon bestuur voor hy vir sy toetse gegaan het.

Afrikaanse Knaap ·

Al my vriende wat hulle motorfiets lisensies in Johannesburg laat doen het het die “gewaarborgde opsie” geneem. Jy betaal dan so R3000 en dan kry jy verseker jou lisensie. Jy moet net opdaag, maar jou foute word oorgesien.

Dries ·

So gaan dit dit al die jare en dit sal nie einde kry. Dis hoekom ons al die ongedisiplinere drywers op die pad kry, en die ergste daar is niemand wat ons beskerm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.