Ses vas oor miljoene se bedrog

geld 4

Argieffoto.

Die Valke in die Vrystaat het ʼn sindikaat oopgevlek wat glo onwettig betaalstrokies en bewyse van betaling geskep het waarmee banke met meer as R6,6 miljoen bedrieg is.

Ses persone, tussen 31 en 47 jaar oud, is in hegtenis geneem op 121 aanklagte insluitend bedrog, vervalsing, geldwassery en bendeverwante bedrywighede, het kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) gesê.

“Die inhegtenisnemings spruit uit ʼn ondersoek wat in 2017 deur die Vrystaat se eenheid, wat ernstige korrupsie ondersoek, van stapel gestuur is. “Die verdagtes het na bewering betaalstrokies en bewys van indiensneming vervals en aansoek gedoen vir die finansiering van luukse voertuie en lenings. Sodra die lenings goedgekeur is, het die verdagtes skoonveld verdwyn. Hulle het meer as R6,6 miljoen deur hul onwettige aktiwiteit ingesamel deur een van die grootste banke in die land.”

Mogale het bygevoeg die transaksie is gefasiliteer deur die bank se werknemer wat intussen afgedank is. Die verdagtes het glo ook ses voertuie, ʼn BMW 220i, BMW 320d, BMW X-drive, twee Volkswagen Golf GTI’s en ʼn Mercedes-Benz coupe, ter waarde van meer as R5 miljoen, aangeskaf. Ongeveer R800 000 is deur lenings bekom.

Glen Ceaser (31), Veronica Crouch (30), Jolene Crouch (35), Chillerboy Floyd Buys (37), Mosa Harrinton Tseleli, Simon Cornelius Botha (46) en Mosa Harington Tseleli (36) het Maandag vlugtig in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn. “Hulle is vrygelaat op borgtog van R2 000 elk met streng borgtogvoorwaardes. Hulle sal na verwagting op 2 Maart 2020 weer in dieselfde hof verskyn.”

Mogale het gesê lasbriewe vir die inhegtenisneming van nog verdagtes is ook uitgereik, aangesien hulle nie vandag in die hof verskyn het nie. ʼn Leefstyloudit van die verdagtes sal in samewerking met die balju gedoen word. Die Valke is op soek na nog drie verdagtes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda

Mooi man = sit hulle terug in die tronk en gooi die sleutels weg.

marius

R2000 borg ? Wat ‘n verotte regstelsel !

Jakes

Hierdie is niks nuut nie, dit is die norm deesdae.