Ses vas oor vuurwapen by Nasrec

Argieffoto: Phillip Bruwer

Ses verdagtes verskyn binnekort in die Johannesburgse landdroshof nadat hulle buite Nasrec, waar die ANC se nasionale verkiesingskonferensie tans aan die gang is, met ʼn vuurwapen betrap is.

Brigadier Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê die mans is Saterdagmiddag tydens ʼn roetinepatrollie in hegtenis geneem.

“Polisiebeamptes het gesien die mans gebruik alkohol in die motor. Die polisie het die motor en die verdagtes deursoek en op ʼn onwettige pistool en ammunisie afgekom,” het hy gesê.

Volgens Naidoo is daar by nadere ondersoek vasgestel dat die vuurwapen voorheen in Kliptown in Soweto as gesteel aangemeld is.

Dit is nie bekend of die verdagtes afgevaardigdes van die ANC is nie. Hulle staan tereg op aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Volgens Naidoo is daar ʼn sterk polisieteenwoordigheid in die omgewing van Nasrec, en alles verloop tot dusver vlot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Speedguard ·

Hul moet al die motors deursoek, wie weet moontlik kry hul nog baie ander onwettige vuurwapens by die “Security” van die Anc in Kwa Natal!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.