Ses vas oor wapens, meer as R1 miljoen se dwelms

Die polisie het op R1 miljoen se dagga en R129 950 se heroïen beslag gelê,. Foto: Verskaf

Ses verdagtes, tussen 23 en 35 jaar oud, kom na verwagting Donderdag in die Kaapse landdroshof voor op aanklagte van dwelmhandel en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

Kaapstad se teenbende-eenheid, wat verlede week van stapel gestuur is, het die verdagtes Dinsdag in Philippi op die Kaapse Vlakte in hegtenis geneem.

Lt.kol. André Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die polisie het op drie ongelisensieerde vuurwapens en ʼn groot hoeveelheid dwelms beslag gelê.

“Ons vorder in die stryd teen bendebedrywighede in die Wes-Kaap,” sê Traut, “soos bewys is deur die inhegtenisneming deur die teenbende-eenheid van ses verdagtes in Philippi met drie ongelisensieerde vuurwapens en dwelms ter waarde van R1 129 950 [in hul besit].”

Lede van die nuwe eenheid het ʼn woonplek in die plakkerskamp Oasis deursoek nadat hulle ʼn wenk ontvang het.

“Die optrede het gelei tot die ontdekking van twee 9 mm-pistole, ʼn .45-kaliberpistool, 70 patrone, dagga ter waarde van R1 miljoen en heroïen met ʼn geskatte straatwaarde van R129 950,” sê Traut. “Hulle het ook beslag gelê op ses selfone en R11 550 kontant, blykbaar die opbrengs van dwelmhandel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Die staat gaan nou beslag le op dagga wat klaar verwerk is en dit verkoop quick money.Ha HA

Hannetjie ·

Net so verskriklik jammer dat hierdie teenbende-eenhede nie al jare terug daar ontplooi is nie.Dit sou honderde onskuldige kinders se lewens gespaar het en daardie mense sou kon leef sonder vrees

linda limbo ·

en die dagga lotto is gewen deur die Wes-Kaapse polisie!
jitte dit sal darm nou awesome wees as Carte Blanche – M-Net – DStv vir ons
kan wys wat gebeur met die plantjies as die SAPS dit vat

marous ·

Gaan laai die dagga af by die regters , wat beslis het dit moet gewettig word , se huise.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.