Ses vas ure ná rowers op sakeperseel toeslaan

Argieffoto: SAPD

Ses verdagtes is in hegtenis geneem binne ure nadat ʼn sakeonderneming in Randfontein aan die Wes-Rand onder ʼn groep gewapende rowers deurgeloop het.

Die voorval het Woensdag omstreeks 02:00 in Aureus gebeur.

Konst. Carmen Hendricks, woordvoerder van die polisie, sê sewe mans het die perseel van die onderneming binnegekom deur die elektriese omheining te knip en oor die muur te klim. Vyf van die boosdoeners was met vuurwapens gewapen, terwyl twee ander messe by hulle gehad het. Almal se gesigte was ook met klapmusse bedek.

“Die verdagtes het die werkers op die perseel vasgebind en hulle van hul selfone beroof. Daarna het hulle die hek van die stoorkamer oopgedwing,” sê Hendricks. ʼn Vragmotor het die perseel binnegekom en die rowers het onder meer koper, brons en gasbottels op die vragmotor gelaai. Hulle het daarna met die voertuig op die vlug geslaan.

“Die slagoffers het geringe beserings opgedoen deurdat hulle vasgebind is. Geen skote is afgevuur nie.”

Hendricks sê die polisie se ondersoek het beamptes later dieselfde oggend na ʼn huis in Swanieville, Kagiso, gelei waar hulle op die vragmotor afgekom het wat tydens die rooftog gebruik is. Verdere ondersoek het beamptes na ʼn perseel in die Roodepoort-gebied gelei waar die meeste van die goedere wat gesteel is gevind is.

“Die eienaar het beweer hy het die goedere by die verdagtes gekoop. Daar is beslag gelê op onder meer kragopwekkers, ʼn gereedskapskis, koper en brons. Die selfone van die slagoffers is ook teruggevind,” het Hendricks gesê.

Ses verdagtes tussen 22 en 58 jaar oud is in hegtenis geneem.

Brig. Mashole Jacob Manamela, bevelvoerder van die Randfontein-polisiestasie, het sy dank uitgespreek teenoor die beamptes wat by die ondersoek en inhegtenisnemings betrokke was. “Ek wil sers. Petlele van die trio-taakspan en lede van die Randfontein-speurtak, ao. Duiker, sers. Tyobeka en sers. Cele, gelukwens. Hierdie deurbraak is moontlik gemaak deur samewerking tussen die polisie en die publiek,” het Manamela gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johnnie ·

As polisie lede goeie diens aan iemand verrig is dit n goeie ding om hul name te noem en vir hulle dankie te se vir die diens gelewer omdat dit maar min gebeur dat ons goeie diens van die polisie kry maar daar is darem uitsonderings.

Cherokee ·

Johnnie, dit wat jy goeie diens noem is inderwaarheid net wat die standard behoort te wees. wamt eintlik het hulle net gedoen waarvoor hulle betaal word. Niks meer nie. Die standaard blyk nou te wees om dit as uitsondelik te beskou wanneer ‘n kriminele saak opgevolg en opgelos word.

AW ·

“Every society gets the kind of criminal it deserves. What is equally true is that every community gets the kind of law enforcement it insist on.” (Robert F. Kennedy)

marous ·

Die persoon wat die goed gekoop het moet lewenslank tronk toe . Dis deur hul toedoen wat mense vermoor en beroof word .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.