Ses vas vir gewaagde Menlyn-rooftog

Die winkel waarop die rowers toegeslaan het. Foto: Verskaf

Ses verdagtes is in hegtenis geneem in verband met ʼn rooftog Maandagaand by Menlyn Mall in die ooste van Pretoria waartydens peperduur Rolex-horlosies gesteel is.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep verdagtes, wat mussies en pette gedra het, het omstreeks 18:00 op die winkelsentrum toegeslaan. Die verdagtes is na die Vault-winkel waar hulle ʼn hamer gebruik het om die vertoonvenster stukkend te slaan voor hulle ʼn aantal Rolex-horlosies gesteel het. Die aanvallers het op veiligheidsbeamptes geskiet toe hulle in twee voertuie van die toneel gevlug het.

Die Brooklyn-polisie het ʼn saak van sakeroof aanhangig gemaak vir verdere ondersoek.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die Brooklyn-polisie, het Vrydag aan Maroela Media gesê vinnige optrede en puik speurwerk het tot die verdagtes se inhegtenisneming gelei.

“Die polisie het direk ná die voorval ʼn volskaalse soektog na die rowers van stapel gestuur. ʼn Intelligensiegedrewe operasie is Vrydag in die vroeë oggendure in Mamelodi uitgevoer waarby polisiebeamptes van die opsporingsspanne in Mpumalanga en Limpopo betrokke was,” het Weilbach gesê.

“Die beamptes het die verdagtes by ses verskillende adresse in Mamelodi in hegtenis geneem.”

Die polisie het tydens die inhegtenisnemings beslag gelê op ʼn groot bedrag geld, twee onwettige vuurwapens en ammunisie, asook twee voertuie wat vermoedelik gesteel is.

Die verdagtes, almal in hul 30’s en 40’s, moet volgende week in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklagte van sakeroof en die besit van gesteelde goedere. Verdere ondersoek word ook gedoen om vas te stel of die verdagtes met ander misdrywe verbind kan word.

Die polisiebestuur het die rolspelers wat tot dié deurbraak gelei het geloof vir hul goeie werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nettie ·

@Louise, dié mense het ook menseregte en is onskuldig tot skuldig bevind, al het hulle – na bewering – ‘n juwelierswinkel van peperduur Rolex-horlosies beroof. En op die sekuriteitswagte geskiet.

Andre ·

Daar is sekerlik nou al ‘n sekuriteitsprofiele van kriminele van gewapende rooftogte, verkragtings, plaas aanvalle, motorkapings ens. Kan dit nie versprei word sodat mense hulle self beter kan beskerm.

Alida ·

Hierdie kriminele moes in die eerste plek nie ‘n kans gekry het om die misdaad te pleeg nie.

Zella ·

Hierdie Kapt. Colette Weilbach en haar span van Brooklyn vat nie nonsens nie.
Ons lees baie van haar en haar span se sukses.
Welgedaan Kapt. Weilbach

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.