Ses vas vir transitorooftog in Burgersfort

‘n Sak met geld waarop die polisie beslag gelê het. (Foto: SA Polisie)

Ses verdagtes is agter tralies nadat die polisie Maandag toegeslaan het op ʼn geldwa op die R555 in Burgersfort in Limpopo.

Kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, het gesê van die geld wat gebuit is, is ook teruggevind, terwyl die polisie beslag gelê het op vyf ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie en vyf voertuie.

Die onbekende getal verdagtes het Maandag omstreeks 18:30 die veiligheidswagte van ʼn ongenoemde bedrag geld beroof nadat hulle glo plofstof gebruik het om die pantservoertuig te bombardeer.

Die polisie se 72 uur lange aktiveringsplan is dadelik in werking gestel en lede van onderskeidelik die provinsie se misdaadintelligensie-eenheid, die hoofwegpatrollie, die opsporingseenheid, die lugvleuel en die taktiese reaksie-eenheid in Pretoria en Ekurhuleni is ontplooi.

Wapens wat by die verdagtes gevind is. (Foto: SA Polisie)

Volgens Muridili het die polisie inligting opgevolg wat hulle na plekke in Polokwane, Mokopane en Lebowakgomo gelei het. Ses verdagtes is daar in verskillende skuilplekke in hegtenis geneem.

Vier van die vyf voertuie waarop die polisie beslag gelê het, is volgens die polisie vermoedelik gekaap, terwyl die vyfde aan een van die verdagtes behoort.

Genl. Khehla John Sitole het die vinnige inhegtenisnemings geloof.

“Ons bly waaksaam en gaan bedrywighede om transitorooftogte in aanloop tot die feestyd te stuit verder verskerp,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stefan ·

As jy daardie wapens en geld by hulle kry is hulle mos nie slegs ‘verdagtes’ nie

Cornelius ·

Ek moes my vuurwapens inhandig sodat die skurke met onwettige wapens die land kan regeer. En dan is daar nog mense wat glo dinge gaan verbeter en nog kinders genereer. SKRIK WAKKER. …. DAAR iS GEEN TOEKOMS NIE. GEE PAD TERWYL JY KAN.

Niklaas ·

Nou wil ek graag later uitvind waar die geld heen is en wie kry dit uiteindelik?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.