Vyf vas vir Ugie-plaasaanval

boeie 4Vyf verdagtes verskyn na verwagting Donderdag in die Maclear-landdroshof in verband met die aanval op Kenny Ewers (59) en sy dogter Chenelle (26).

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het Woensdag aan Maroela Media gesê die verdagtes is aangekeer.

Maroela Media het berig die gesin is verlede Woensdagaand omstreeks 19:45 deur drie mans in hul plaashuis in die Ugie-omgewing in die Oos-Kaap oorval. Die gesin het in ʼn slaapkamer televisie gekyk. Kenny is in sy been geskiet en Chenelle in haar bors. Kenny se vrou, Felicity, het Kenny se vuurwapen gegryp en die aanvallers verjaag. Hulle het van die toneel gevlug met Chenelle se selfoon.

Kenny is intussen na ʼn hospitaal in Oos-Londen oorgeplaas waar hy ʼn operasie aan sy been moet ondergaan. Chenelle is uit die hospitaal in Maclear ontslaan en sterk by die huis aan. Chenelle en Felicity woon tans saam met die Ewers-egpaar se jonger dogter, Serwin, in Ugie, totdat die plaashuis beveilig is.

Maroela Media het ook berig die gesin kon nie die Maclear polisie by die polisiestasie in die hande kry toe hulle die polisie na die aanval ontbied het nie. Kol. Sibongile Soci, ʼn provinsiale woordvoerder, het toe gesê dat die stasie se bevelvoerder die aantygings sou ondersoek.

“Die stasiebevelvoerder het sy ondersoek afgehandel,” het Soci Woensdag aan Maroela Media gesê. “Die polisiebeamptes wat aan diens was tydens die voorval het gesê dat hulle nie van die voorval ingelig is nie, maar dat hulle by ʼn ander polisiebeampte daarvan verneem het. Dié beampte is direk deur die gesin gebel.” Die gesin het glo nie die stasie direk gebel nie. Volgens die bevelvoerder is dit standaard praktyk van mense in die omgewing om polisiebeamptes te skakel wat hulle persoonlik ken, en nie die polisiestasie nie.

Die verdagtes gaan na verwagting van huisbraak en poging tot moord aangekla word.

Lees ook:
Plaasaanval in Ugie: Polisie sal onbeantwoorde oproep ondersoek
Plaasaanval in Ugie: Geen antwoord by polisie ná aanval
Plaasaanval in Ugie: Polisie wou ma glo arresteer
Plaasaanval in Ugie: Pa en dogter geskiet; ma verjaag rowers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veronica Deacon ·

Dankie vir die terugvoer oor pa en dogter, mag albei volkome herstel. Ek hoop regtig dat die skurke vir lank toegesluit sal word indien skuldig bevind.

AmY ·

Gaan die saak teen die ma en vrou nou teruggetrek word? Die polisie wou haar mos arresteer?Sy het mos geskiet op die aanvallers? Natuutrlik uit selfverdediging.

Ek is dankbaar die mans is aangekeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.