Ses mense het in verskillende voorvalle in Rustenburg, Noordwes, verdrink.
“ʼn 30-jarige man van Ethiopië het Sondag verdrink toe ʼn stroom water sy motor meegesleur het,” het kol. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie in Noordwes, gesê. “Die slagoffer het glo ná ʼn erge storm oor ʼn laagwaterbrug in Middelstraat, Rustenburg gery.” Die brand- en reddingseenheid kon die motor uit die water haal, maar daar was niemand binne nie.
“Vier seuns, tussen 14 en 15 jaar oud, het in dieselfde stroom visgevang toe die water hulle meegesleur het,” het Mokgwabone bygevoeg. “Hulle het verdrink.” Die seuns is almal van die Yizo Yizo informele nedersetting.
Mokgwabone sê die polisieduikers het die vyf liggame Maandagoggend opgespoor. “ʼn Onbekende vrou se liggaam is ook in die stroom aangetref. Niemand het ʼn vrou as vermis aangemeld nie.”
Die polisie doen drie geregtelike doodsondersoeke.