Ses vermeende stropers in die hof

Argieffoto Foto: isotherm.co.za

Argieffoto Foto: isotherm.co.za

Ses vermeende renosterstropers het die afgelope week in verskillende howe in Limpopo en Mpumalanga verskyn, het die polisie Donderdag gesê.

Drie Mosambiekers het Woensdag in die Witrivier-landdroshof in Mpumalanga verskyn. “Isaac Alfred Ndlovu (27), Lawrence Julio Ndlovu (27) en Armenco Ndlovu (24) is in Satara in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem,” het brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê. “Hulle het ʼn CZ 550-geweer, ʼn knaldemper, ʼn byl en nege 458 rondtes ammunisie in hul besit gehad.” Die drie word aangekla van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie en betreding. Hulle saak is tot 1 Julie uitgestel om die verdagtes die geleentheid te bied om regshulp te bekom.

ʼn Mosambieker en ʼn Suid-Afrikaner het Maandag in die Acornhoek-landdroshof in Limpopo verskyn. “Angelo Mtimba (32) van Mosambiek, en David Kubaya (30) van Suid-Afrika, is op 11 Junie 2015 in hegtenis geneem. Hulle het glo ʼn 416 kaliber jaggeweer en ʼn 458 knaldemper in hul besit gehad,” het Naidoo bygevoeg. Kubaya se borgtog is toegestaan op R20 000 en Mtimba op R10 000. Volgens Naidoo moet die twee mans weer op 10 Augustus in die hof verskyn. Die ondersoek duur voort.

Nog ʼn verdagte, Thomas Ngomane (38) van Suid-Afrika, is ook op 11 Junie in Acornhoek in hegtenis geneem nadat ʼn .38 rewolwer sonder ʼn reeksnommer, twee .38 rondtes en ʼn byl in sy huis gevind is. Hy word aangekla van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Ngomane is vrygelaat op borgtog van R2 000. Hy moet weer op 10 Augustus in die hof verskyn. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.