Ses vragmotors in Mpumalanga gebrand

Die vragmotors wat in Arnot aan die brand gesteek is. Foto: Twitter

Die polisie in Mpumalanga ondersoek drie voorvalle Maandagaand waartydens ses vragmotors aan die brand gesteek is.

Die voorvalle het in Hendrina, Arnot en Kriel plaasgevind. Volgens brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, is een vragmotor in Hendrina aan die brand gesteek. Die vragmotorbestuurder het geslaap en het wakker geskrik toe ʼn venster gebreek is.

“Die bestuurder beweer ʼn man het hom beveel om uit die vragmotor te klim. Die bestuurder het toe nog sewe mans gesien. Die verdagte wat die vragmotorbestuurder aanvanklik beveel het om uit die vragmotor te klim het toe glo vuurhoutjies gevat en komberse in die vragmotor aan die brand gesteek.”

Die agt verdagtes het hierna in ʼn wit Toyota Corolla van die toneel gevlug.

In Arnot is vier vragmotors aan die brand gesteek. Volgens Hlathi hou dit vermoedelik verband met ʼn staking. Die vragmotorbestuurders is glo geteiken omdat hulle nie aan die staking deelneem nie. Die vragmotors het glo in ʼn ry gestaan om steenkool by die Arnot-kragstasie af te lewer.

Nog ʼn vragmotor is ook in Kriel aan die brand gesteek. Hlathi het gesê die skade wat tydens die drie voorvalle aangerig is, beloop sowat R5 miljoen. Niemand is al in hegtenis geneem nie.

“Die polisie ondersoek sake van kwaadwillige saakbeskadiging.” Enigiemand met inligting oor die voorvalle word versoek om Stop Misdaad te kontak by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Die afbranders het seker nie gehoor dat ons die rugby gewen het en nou almal een nasie is nie?

Grassie

Net ‘n dosie vuurhoutjies en dan 5 miljoen rand skade. Dit is die “nuwe, bevryde Suid-Afrika,” Bevry van wat? Van ‘n stabiele regering waar alles werk met ‘n doeltreffende infrastruktuur.
Die HAT beskryf anargie as ‘n toestand van totale wanorde waarin geen gesag erken word nie. Nou wonder ek, is ons sterk op pad soontoe of is ons reeds daar?

Spook op thaba

@Grassie…Reeds daar

Frikkie Geld en huis

Twee sulke eenhede – sidetippers ingesluit – kos al meer as R 2 miljoen.

marous

En die koning loop kaal rond .