Sesde verdagte vas oor reusedwelmvonds op N1

Die dwelms waarop die Valke vroeër vanjaar beslag gelê het. (Foto: SA Polisie/Valke)

Nog ʼn verdagte is aangekeer in verband met die reusedwelmvonds wat in Junie vanjaar in Pretoria gemaak is.

Dit bring die getal verdagtes wat reeds in hegtenis geneem is op ses te staan.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê die narkotika-eenheid (Saneb) het die 48-jarige verdagte in Strand, Kaapstad, vasgetrek. Die jongste inhegtenisneming volg op die voortgesette ondersoek na ʼn kis met 805 kg kokaïen, ter waarde van sowat R400 miljoen rand, wat versteek in die romp van ʼn boot op die N1-hoofweg gevind is.

Nkwalase sê die verdagte is dopgehou en gister by ʼn pakhuis in Aslapark in hegtenis geneem wat geïdentifiseer is as ʼn stoorfasiliteit wat die sindikaat gebruik.

Twee bote is op die perseel gevind. Een daarvan was in die proses om aangepas te word sodat dit versteekte kompartemente het.

“Dieselfde Garden Master-sakke wat gebruik is om die kokaïen in die Lyttelton-saak [in Pretoria] te versteek, is glo ook op die boot gevind.”

Die verdagte sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Pretoria verskyn.

Hy sal later saam met Niel Pieter van Zyl (39), Rafiek Baderoen (44), Rashied Baderoen (48), Michael Norman (38) en Tenikaitis Valdas (57) in die beskuldigdebank staan. Hulle aansoeke om borgtog word op 23 Augustus hervat.

ʼn Israeliese burger, Ahmed Isa, ook bekend as Mickey, asook twee burgers van Litoue, Donates Jukna en Jonas Zulpa, is steeds op vrye voet.

Enigiemand met inligting oor waar dié twee verdagtes hulle moontlik bevind, kan AO Brittion by 082 778 2815, of die afdelingshoof van Saneb, brig. Naicker, by 082 778 2818 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peach ·

Kyk, ons wet’s toepassers verdien ‘n pluimpie maar, vir elke misdadiger wie uit die samelewing verwyder word en, solank daar ‘n Mark daar buite is, word daar tien ander “gebore” want, die spreekwoord sê mos die een se dood is die ander se brood.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.