Sesde virusgolf dalk op pad

(Argieffoto: Ronny Hartmann/AFP)

Indien die afgelope twee en ʼn half jaar se tendens hom wéér herhaal, kan Suid-Afrikaners hulle teen volgende maand in nóg ʼn koronavirusvlaag bevind.

Kenners wil hulle egter nie in hierdie stadium uitlaat oor hoe die sesde virusvlaag moontlik gaan lyk nie. Hulle hoop wel dat dit, nes die vorige vlaag, matig sal wees.

“As ons kyk na die geskiedenis van die afgelope twee jaar, dan lyk dit of nog ʼn vlaag teen 9 September rond moet begin – mits die virus dieselfde pad volg,” sê dr. Angelique Coetzee, ʼn koronaviruspandemiekenner en voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging.

Virusvlae volg sedert die uitbreking van Covid-19 in Maart 2020 sowat elke drie maande op mekaar.

Dit is egter nie tans moontlik om te bepaal of die minder ernstige Omikronvariant en die verskillende subvariante die nuwe vlaag gaan dryf en of dit ʼn heeltemal nuwe variant gaan wees wat dié keer kop uitsteek nie.

“Ons weet nie,” sê Coetzee.

Prof. Barry Schoub, ʼn viruskenner en voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19-entstowwe, beaam dit.

“Ons het nie die vermoë om presies te sê hoe dit sal lyk nie. Daar is geen manier om dit te voorspel nie.”

Statistieke van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) toon tans nog geen teken van ʼn toename in nuwe Covid-19-gevalle nie, hoewel 147 nuwe gevalle die afgelope week in Suid-Afrika aangemeld is. Dit is ʼn 30%-afname vergeleke met die vorige week.

“Daar is nog geen rooi vlae nie – net baie toegewyde toesig,” sê dr. Aslam Dasoo, sameroeper van die progressiewe gesondheidsforum.

Coetzee wys egter daarop dat min Suid-Afrikaners hulle nog vir Covid-19 laat toets.

“Teen hierdie tyd van die jaar is die meeste mediese [spaar-] fondse uitgeput wat dit vir ons moeilik maak om pasiënte te laat toets. Baie pasiënte het hulle ook verlede jaar laas laat inent en nog nie vanjaar hul aanvullingsdosis ontvang nie.

“Jou teenliggame is dus nie meer wat dit was nie, selfs al het jy vantevore Covid-19 gehad.”

Coetzee, ʼn algemene praktisyn van beroep, sê sy gaan teen die einde van die week haar pasiënte met lugwegsimptome baie meer begin dophou. Sy raai intussen pasiënte, veral diegene ouer as 55 jaar met chroniese siektes, aan om hulle teen Covid-19 te laat inent.

“En dan, maskers, maskers, maskers. Ek kan dit nie genoeg sê nie.”

Dasoo verwag egter nie dat die verwagte virusgolf die appelkar gaan omgooi nie.

“Daar is in dié stadium geen nuwe variant nie en sowat 95% van alle gevalle word aan Omikron en sy verskillende subvariante toegeskryf.

“Ons is op ʼn historiese laagtepunt wat infeksies betref en begin geleidelik die akute noodfase van die Covid-19-pandemie verlaat.”

Dasoo verwag dat, “indien ons gelukkig is”, Covid-19 teen volgende jaar reeds moontlik as endemies verklaar kan word.

Coetzee het egter min moed dat dit binnekort gaan gebeur en sê dit hang af van verwikkelings oor die volgende paar maande. “Ons kan miskien daaraan begin dink indien ons volgende maand niks opmerk nie en eers weer volgende jaar ʼn uitbreking sien.

“Dit gaan alles afhang van wat nou gebeur. Indien die virus nou nié die patroon volg nie, is iets meer positief aan die gang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henri ·

Besef die medici hoeveel skade hulle “Wolf! Wolf!” geskree aan die meeste mense se finansies, psigiese welstand en sosiale interaksies gedoen het? Skoolgaande kinders is die ergste “geslaan” deur die COVID-debakel, en die skade wat aan hulle ontwikkeling gedoen is, is nog nooit bepaal nie. En hulle skree al weer…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.