Sesjarige meisie weier dat rower TV vat

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

ʼn Sesjarige meisie het geweier dat ʼn huisrower die televisie steel waarop sy besig was om iets te kyk.

Die voorval het Vrydagmiddag in ʼn huis in Greenbushes in Port Elizabeth in die Oos-Kaap plaasgevind.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het die huiswerker in die etensuur na haar kamer op die erf gegaan. Haar dogtertjie het in haar werkgewer se huis agtergebly en televisie gekyk.

“Terwyl die huiswerker besig was om te eet, het ʼn onbekende man, gewapen met ʼn kapmes, haar kamer binnegekom. Hy het haar gedreig en haar van haar selfoon en R1 000 kontant beroof.”

Die rower het die huiswerker na die hoofhuis gevat en daarop aangedring dat sy vir hom wys waar die kluis is. “Toe hulle die sitkamer binnegekom het, het die rower ook die meisie gedreig en haar ma aangesê om die TV te ontkoppel.

“Die kind het haar egter nie aan die verdagte se dreigemente gesteur nie, maar geweier om die TV-stel te laat gaan en voor die wag gestaan. Sy het die verdagte gedreig dat sy die ‘ouma’ gaan roep wat in ʼn kamer in die huis geslaap het.”

Volgens Naidu het die kind toe na die kamer gehardloop waar die 75-jarige vrou geslaap het. Die vrou het wakker geword en na die sitkamer beweeg.

“Die rower het ʼn skootrekenaar gegryp en by die agterdeur uitgehardloop toe hy die vrou sien.” Die noodknoppie is gedruk en polisiebeamptes was vinnig op die toneel en het onmiddellik die gebied begin fynkam.

Die vermeende rower is later die dag in ʼn nabygeleë plakkerskamp met die gesteelde goedere aangekeer. Daar is ook nog twee gesteelde skootrekenaars in die 27-jarige verdagte se besit gevind. Hy sal Maandag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn.

Genl.maj. Thembisile Patekile, gebiedskommissaris vir Nelson Mandelabaai, het die meisie vir haar dapperheid geloof. “Sy was nie bewus van die gevaar waarin sy verkeer het nie. Ons is baie bly dat sy en die ander huisbewoners geen leed aangedoen is nie.”

Patekile het gesê mense moenie hul huis se deure oop los nie, selfs al is hulle tuis. “Maak altyd seker dat veiligheidshekke gesluit is en moet nooit aanneem dat jy in ʼn veilige gebied is nie. Opportunistiese misdadigers is altyd doenig.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Byekonfyt

Bietjie goeie nuus vir ‘n slag. Of eerder: ‘n goeie einde vir ‘n uiters gevaarlike situasie. Moeder ma .

melaney

Nes jy dink jy het nou alles gesien/gelees …..

Sarel

Vir het hy die grootste gedkrik. Die Meisie of die Ouma.
Sy is rof. Jy vat nie my TV nie.
Mooi mensie.

Johann

?????? Ek lees die “storie” en hoe meer ek lees klink dit vir my soos n “STORIE” Huiswerker…laat die alarms afgaan!

Fedup

Never ever underestimate a six year old when it comes to their favorite tv programmes.
I haven’t laughed so hard in a long time.
You go girl. Proud of you.