Sesjarige se moordenaar pleit skuldig

Klein Delvina Europa (6).

Die man wat daarvan beskuldig is dat hy die sesjarige Delvina Europa verlede jaar verkrag en vermoor het, het skuldig op die aanklagte teen hom gepleit.

Reagan Zietsman het Maandag in die Bredasdorp-landdroshof verskyn, skuldig gepleit en is daarna dadelik skuldig bevind.

Zietsman is ʼn buurman van die meisietjie en het tereg gestaan op aanklagte van ontvoering, verkragting, moord en regsverydeling.

Delvina is op Sondag 24 Maart verlede jaar die laaste keer lewend gesien toe sy voor bure se huis in Nuwestaat, in Elim in die Wes-Kaap, gespeel het. Sy het daarna spoorloos verdwyn.

Die gr. 1-leerder van Elim Moravian Primary School is die volgende dag as vermis aangemeld en inwoners het Dinsdag haar liggaam in ʼn bos gevind.

In ʼn beëdigde verklaring wat by die hof ingedien is, gee Zietsman meer besonderhede oor wat hy aan klein Delvina gedoen het.

Hy erken dat hy haar geken het omdat hy vriende met haar pa is en het op die Saterdag voor haar verdwyning dwelms saam met Delvina se pa gebruik.

Hy erken ook dat hy op die dag van haar verdwyning na haar pa op soek was en op die dogtertjie afgekom het, wat daarna saam met hom weg is om na haar pa te gaan soek.

Volgens Zietsman het hulle deur ʼn veld in die rigting van ʼn skool vir gestremdes gestap en toe hulle in ʼn beboste gebied aankom, het hy besluit om haar te verkrag.

Hy het haar wel verkrag en om haar stil te hou het hy sy hand oor haar mond en neus gehou totdat sy eindelik versmoor het. Zietsman het gesê in ʼn poging om van bewyse van sy daad ontslae te raak – omdat hy geweet het sy semen sal op die kind gevind word – het hy die meisietjie se liggaam in vlak water gelos.

Zietsman het ook erken dat hy aan inwoners van die gemeenskap gelieg het toe hy gevra is of hy enigiets van Delvina se verdwyning weet. Volgens hom was hy bang om die waarheid te vertel omdat die “gemeenskap en die straatkomitee my sou aanrand vir wat ek gedoen het”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kalla ·

Bang die gemeenskap sal hom aanrand, hoe moes die klein dogtertjie gevoel het? Sy is wreedaardig vermoor! Gemors!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.