Sesjarige word al 10 dae lank vermis

Bontle Mashiyane (Foto: SAPD Mpumalanga)

Die polisie in Mpumalanga doen ʼn dringende beroep op die publiek om hulle te help om die sesjarige Bontle Zethu Ditebogo Mashiyane, van Mganduzweni in Masoyi naby Witrivier, op te spoor. Sy het Saterdag, 30 April 2022 omstreeks 11:00 spoorloos verdwyn.

Brigadier Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, sê Bontle het op die dag saam met ander kinders by die huis gespeel.

“Daar is later ontdek dat sy spoorloos verdwyn het. Haar familie was besorg toe hulle haar nêrens in die hande kon kry nie. Hulle het haar dieselfde dag by die polisie in Masoyi as vermis aangemeld.”

Mohlala sê die saak geniet hoë prioriteit en word hanteer deur ʼn gespesialiseerde eenheid van die polisie in Pienaar vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings. “Hulle is kenners om sulke sake te ondersoek weens die vaardighede en hulpbronne tot hul beskikking.”

Bontle weeg ongeveer 17,7 kg en het op die dag van haar verdwyning ʼn pienk T-hemp aangehad en ʼn pienk sweetpakbroek. Sy was kaalvoet.

Collen Hlongwane (Foto: SAPD Mpumalanga)

Die polisie glo Collen Hlongwane (foto hiernaas) kan hulle help in hul ondersoek na die vermiste Bontle. Hy word gemaan om die polisie dringend te kontak. Lede van die publiek word versoek om die polisie in kennis te stel indien hulle weet waar Hlongwane homself bevind.

Enigiemand met inligting kan ook speurder sers. Pretty Nsimba kontak by 072 103 4717 of 083 442 3403 of die Pienaar-eenheid by 082 303 9798.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.