Settlers-skoolhoof sterf

Etienne Burger en sy vrou, Annelize. (Foto: Verskaf)

Etienne Burger (56), skoolhoof van die Lord Milner School op Settlers in Limpopo, is Sondagoggend vermoedelik aan Covid-19-verwante komplikasies oorlede.

Volgens Bushie Mostert, onderwyser by dié skool, het Burger vroeër die week positief vir die koronavirus getoets. Sy toestand het egter vroeg vanoggend skielik en drasties versleg.

“Sy vrou, Annelize, het ons vanoggend omstreeks 09:00 kom roep en gesê haar man kry nie asem nie.”

Mostert en sy gesin woon langs die Burgers op die skool se perseel.

Hy het aan Maroela Media gesê dat Burger sy bewussyn verloor het en dat omstanders op die toneel tevergeefs probeer het om hom by te bring terwyl hulle op die nooddienste gewag het.

Die naaste hospitaal aan die skool is sowat 35 km weg.

Volgens Mostert is Burger om 10:15 amptelik deur nooddienswerkers van Life 24 dood verklaar.

“Dit was ’n groot skok. Volgens sy vrou het hy gisteraand goed gelyk. Hy het wel nie ’n baie groot eetlus gehad nie, maar hy het gesê hy is ‘oukei’.”

Mostert sê dit gaan onder omstandighede maar “bitter swaar” met Annelize.

“Die egpaar se kinders, Gian (31) en Esli (27), is tans van onderskeidelik Roodepoort en Somerset-Wes onderweg om hulle ma by te staan.”

Burger is in April vanjaar amptelik as hoof van die skool aangestel nadat hy sowat drie jaar lank in die pos waargeneem het. Die skool se voormalige skoolhoof, mnr. Hector van Aard, is in 2018 aan kanker oorlede.

Mostert sê dat Burger se dood ’n groot leemte in die Settlers-skoolgemeenskap laat.

“Hy was ’n man van wysheid en integriteit. Boonop was sy algemene kennis verstommend.

“Wat ek egter die meeste van hom gaan mis, is sy besondere vermoë om die woord van die Here oor te dra. Wanneer hy geopen het, was almal sommer opgewonde omdat hy werklik daarmee pitkos vir die siel gebring het.”

Mostert sê dat Burger ’n groot rol in die geestelike lewe van Lord Milner se leerders gespeel het.

“Hy sal ook altyd onthou word vir die manier waarop hy ’n moeilike situasie kon ontlont. Raad was daar altyd en hy het nooit ’n slegte woord van ’n ander persoon gesê nie.”

Burger was vroeër in sy loopbaan adjunkhoof by die Hoërskool Ben Vorster op Tzaneen, waar hy volgens Mostert groot mylpale met dié skool se rugbyspan behaal het. Hy het destyds ook by Hoërskool Merensky in dié provinsie skoolgehou.

Mostert sê rugby was Burger se passie en dat hy in sy jonger dae self ’n kranige sportman was wat in veral rugby, stoei en atletiek uitgeblink het.

Voor sy aanstelling by Lord Milner was Burger die skoolhoof van Hoërskool Nylstroom in Modimolle.

Benewens sy vrou en kinders laat Burger ook sy kleinseun, Ethan (7), agter.

Begrafnisreëlings is in dié stadium nog nie bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hendrik Marthinus ·

Toe ek die opskrif lees dog ek beide oorlede
Net die afgelope Paar dae, kon ons weereens sien hoe erg covid is.
En Steeds lees ons dus net n griep en n plan van die regering om ons in te perk
Nee mense as ons nie ons leefstyl gaan verander en die vaccine vat nie wag Baie erge dinge op ons
Sterkte aan die hoof se vrou en kinders,

Alma ·

Ja nee afduimpies, dis seker weer net stories, ek kan nie glo mense kan so hardkoppig aan n siening vasklou dat hierdie virus niks is of nie bestaan nie. As dit dan nou maar net n griepvirus is, wys dan die baie onderwysers, akteurs, vriende en familie wat die vorige jare aan n “gewone” griep doodgegaan het.

Wat op dees Aarde ·

Al die af duimpies is die Trompkoppies wat nou weer glo die virus bestaan nie. Ek het by die dood omgedraai agv covid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.