Seun (10) deur jagluiperd aangeval tydens skooluitstappie

Aiden Fry. Foto: Facebook

Aiden Fry. Foto: Facebook

Aiden Fry , ʼn tienjarige seun van Pietermaritzburg, is tydens ʼn skooluitstappie in KwaZulu-Natal deur ʼn jagluiperd aangeval.

Aiden, ʼn leerling aan Cowan House, was Donderdag saam skoolmaats op ʼn uitstappie by Kwa Cheetah Breeding Project by die Nambiti-wildreservaat naby Ladysmith.

Aiden se pa, Craig, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy seun en ʼn groep skoolmaats het tydens die uitstappie omstreeks 10:00 buite die heining van ʼn jagluiperdkamp gestaan.

Die plek waar die jagluiperd Aiden gebyt het. Foto: Verskaf

Die plek waar die jagluiperd Aiden gebyt het. Foto: Verskaf

“My pa het ʼn wildplaas en Aiden is van kleintyd af geleer om wilde diere te respekteer en te weet hulle is gevaarlik,” het Fry gesê. “Die groep kinders het die hanteerder gehoorsaam en sowat twee tot drie meter van die heining af gestaan. Die hanteerder was binne-in die kamp en het ʼn stok by hom gehad terwyl hy die kinders meer oor die jagluiperds vertel het.”

Volgens Fry het ooggetuies gesê ʼn jagluiperdmannetjie het nuuskierig na die groep kinders gestap en op en af langs die heining geloop.

Een van Aiden se wonde voordat dit behoorlik skoongemaak is.

Een van Aiden se wonde voordat dit behoorlik skoongemaak is.

“Hy het teruggeloop na die hanteerder, wat in die middel van die kamp gestaan het, toe hy skielik omgedraai en volspoed op die kinders afgepyl en teen die heining gespring het.”

Fry het gesê die momentum van die jagluiperd se spoed het veroorsaak dat die heining na die kinders se kant toe oorgehel het. Die dier se pote en kop het deur die heining gedruk.

“Die jagluiperd het met sy linkerklou Aiden links voor aan die bors beetgekry. Sy ander klou het Aiden aan sy regterskouer gehak en hy het sy kake in Aiden se linkerskouer ingedryf.”

Die heining het weer regop gekom met Aiden steeds in die dier se kloue.

Die hanteerder het tussenbeide getree en uiteindelik die jagluiperd van Aiden afgekry.

“Stukke vleis is uit sy skouer geruk. Hy is ná die tyd na ʼn hospitaal op Ladysmith geneem waar die dokter kamstig sy wonde skoongemaak en met 37 steke geheg het. Hulle het vir hom pynmedikasie gegee en met ʼn paar pynpille ontslaan.”

Aiden en sy skoolmaats was teen sowat 17:00 terug in Pietermaritzburg. Sy ouers het hom na die Mediclinic Pietermaritzburg gehaas nadat hy versteurd voorgekom en gebraak het. Sy wonde het glo ontsteek geraak.

Hy moes Vrydag ʼn twee uur lange operasie ondergaan terwyl sy wonde weer oopgemaak, behoorlik skoongemaak en geheg is. Hy is Maandag uit die hospitaal ontslaan en sterk tans by die huis aan.

Fry het gesê die skool en reservaat het die gesin by die hospitaal besoek om hulp en ondersteuning te bied. Die skool het glo ook onderneem om Aiden se mediese onkoste te betaal, terwyl die reservaat op sy beurt ʼn ondersoek van stapel gestuur het om te verhoed dat so iets weer gebeur.

“Aiden is nou bang vir ʼn jagluiperd, maar dit is verstaanbaar. Ons hoop en glo dat hy mettertyd van die vrees sal herstel,” het Fry bygevoeg.

Fry het gesê hulle wil geensins hê dat die jagluiperd van kant gemaak word nie. “Dit is ʼn wilde dier en hy het natuurlik opgetree. Die ideaal sal wees om hom te beskerm en in die natuur vry te laat waar hy hoort.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Michiel ·

Ai ou seun, jammer dit het gebeur, hoop jy herstel blitsig en kom oor jou vrees vir die mooi katte. Hulle is lieflike diere en dis eienaardig dat die dier skielik so opgetree het, dit sal goed wees as BAIE goeie ondersoek gedoen word – hoe werk die hanteerders REGTIG met die diere (veral as “niemand sien”) en so aan. Wilde diere bly maar wild en mens moet hul respekteer.

Jakoba ·

Die kinders is Klein genoeg om as prooi gesien te word. Die hanteerder het absoluut niks verkeerd gedoen nie. Die jagluiperd het gedoen wat n Wilde kat in die natuur sou doen.

ronel ·

Ek is so dankbaar dat die kind niks erger oorgekom het nie.. En die dat die ouers die dier se lewe spaar ek haal my hoed af vir julle dat julle weet dat hyt opgetree soos enige ander wild wat aangehou word.. Julle as overs kan regtig trots ewes op julle wyse besluit.. Hoop hy voel sommer spoedig beter en met tyd weer leer om die ras dier lief te kry

Martin ·

Jammer dit het gebeur. Kyk ek dink die man is nou al die maatjies se hero.

lefty ·

Dis so waar gelukag is die arme laitie OK en ek as ouer stem saam hule is wile diere en doen net soos hy sou in die wild dis natuur. Sterkte ou groot seun

Theresa ·

So bly hy is ok. Die girls gaan nog daardie littekens eendag sexy vind en gaan hy vir baie lank ‘n goeie storie hê om te vertel. Baie sterkte en herstel vining. So bly almal is “oopkop” oor die insident. Dit is net kommer wekkend hoe die dokters ook deesdae optree. Raak ook slegter by die dag. Begin inpas in die nuwe SA. Hoop die dokter wat hom so swak behandel het, kry nagmerries.

Theresa ·

Hallo Theresa, jy slaan die spyker op die kop! Daar is dokters wat mens se hare laat regop staan. Het noodgevalle besoek in goeie voorstad se hospitaal. Vreeslik pyn gehad en niks kon dit stil nie. Die dokter se “kry jou kop reg” is nou nog vir my iets wat ek graag vir hom wil sê. Nog nie kans gehad nie, want dit was toe ‘n noodoperasie die volgende dag – gewas wat tussen nekwerwels op senuwees gedruk het. SEER. Maar: kry jou kop reg. So ek vermoed ook dat van die mense ongelukkig nie almal meer die aansien van geneesheer sal hê as dit so aanhou nie. Duisend dankies aan die geneeshere wat wel nog hier is.

Peet Schabort ·

Sterkte GROOTMAN !! Beslis nie Aiden of die jagluiperd se skuld maar . . .
Wat kommerwekkend is is dat die heining ‘n volle 2/3meter meegegee het en dat selfs die KOP van die luiperd deur die heining gekom het. Dit gee my die vermoede dat hier spaarsaam gewerk is met materiaal wat ook ysterpale in die grond insluit op intervalle té vêr uitmekaar. Die behoorlike oprigting van hierdie kampheinings vir wilde diere deur gekwalifiseerde vakmanne is ter sprake VERAL waar die publiek toegelaat word.
Dieretuinheinings het ook ‘n ekstra heining as buffer wat ontbreek by wildplaasheinings.
Ook het ek nie geweet dat daar nou ‘n kubaanse dokter is op Ladysmith . . .
Dit lyk of die wond swakker toegewerk is as om ‘n goiingsak toe te werk.

Pieter dp ·

Wys jou n wile dier bly wild.

Ek wil net vir die on in geligte mee bring. Die dokter het die wond 100% reg toe ge wèrk. Dis hoe jy n byt wond toe werk wand as die septies word kan dit dreineer.

Seun sterkte en nou het jy ook iets om oor te spog .

Gerhard ·

Sterkte ou Grootman! Kapitaliseer daarop. My kinders (en vroeërjare die damesstudente) is mâl oor my koeëlgate.

BoereBikerBaby ·

Wel alle respek aan Fry, baie mense wil diere van kant maak as hulle aangeval word, veral wilde diere. Ek is bly om te sien hy het ook besef die dier is wild en het op sy natuurlike instink gegaan.

magriet ·

hoe meen die skrywer van die artikel dat die dokter kamstig Aiden se wonde skoongemaak het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.