Seun (10) saam met oupa toe rowers toeslaan

misdaadtoneel

Argieffoto

ʼn Jong seun was Maandag saam met sy oupa toe hulle in die vroeë oggendure in hul huis in Deneysville in die Vrystaat deur vier gewapende rowers oorval is.

Maroela Media het vroeër berig paramedici is omstreeks 03:00 deur lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) na die huis ontbied. Daar het hulle ʼn man in ʼn slaapkamer aangetref. Hy het verskeie skietwonde opgedoen en was in ʼn kritieke toestand.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê die 62-jarige man en sy 10-jarige kleinseun het glo geslaap toe hulle wakker geword en vier onbekende mans in die kamer gesien het. “Die man het probeer om sy skoktoestel te gryp en soos hy omgedraai het, het een van die verdagtes hom drie keer geskiet,” het Mbambo gesê.

“Die verdagtes het toe die kleinseun met skoenveters vasgemaak en met ʼn Honda CRV-voertuig, twee selfone, ʼn televisie en kontant van die toneel gevlug.”

Die gewonde man is na die Vereeniging Mediclinic gehaas, waar hy kort na sy aankoms gesterf het. Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat, het Maandag die man in ʼn verklaring as Sarel Erxleben geïdentifiseer.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.