Seun (10) se ma, pa sterf op een dag – toe ook sy ouma

Lionel, Maria en Heindrich tydens die kankerstryd (Foto: Verskaf)

Minder as een week nadat ʼn tienjarige seun van Oos-Londen in die Oos-Kaap sy ma, pa én die gesin se geliefde hond aan die dood afgestaan het, is sy 72-jarige ouma ook dood.

Heindrich Schroeder, ʼn leerder aan die Laerskool Grens in dié provinsie, was ondanks dié seer nog verlede week by die skool om te help met ʼn Bak-en-Brou-projek.

Die tienjarige het ná die dood van sy ouers by sy ouma, Annie Nell, gaan bly.

Elaine Nass (41), Heindrich se tannie, sê die familie is geskok en “sukkel om die seer te verwerk” – veral omdat hulle in só ʼn kort tydperk die dood van drie geliefdes moet verwerk.

Nass sê Heindrich se ouers, Lionel en Maria Schroeder, het albei kanker gehad. Maria is in September 2015 met longkanker gediagnoseer en Lionel is een jaar later – ook in September – met limfklierkanker gediagnoseer.

“Hulle het al die prosesse ondergaan – chemoterapie, bestraling en ander,” sê sy. “Ons was versigtig optimisties. Maria se kanker het in remissie gegaan; sy was amper agt maande lank skoon. Toe kom dit weer net skielik terug en dié keer het haar gesondheid drasties agteruitgegaan.

“Lionel se dood bring net soveel seer. Die dokters het aanvanklik gesê sy lewe is nie in gevaar nie. Toe versprei die kanker eers na sy maag en daarna begin al sy organe platval. Ons is platgeslaan,” sê sy.

Lionel en Maria is vroeër vanjaar albei in die St. Dominic’s-hospitaal in Oos-Londen opgeneem. Nass sê die hospitaalpersoneel het hulle in aparte kamers gesit “uit vrees oor hul reaksie as een van hulle moontlik ʼn hartaanval sou kry of sterf”.

Lionel en Maria op hul troue (onder) en Annie (bo) (Foto: Verskaf)

“Ons het op 19 Februarie ʼn oproep gekry om onmiddellik hospitaal toe te kom om van Lionel afskeid te neem. Ons het gejaag en hy is kort ná ons aankoms, om 13:40 [die middag van 20 Februarie], dood. Ons het by die hospitaal aangebly om by my suster te wees, maar haar toestand het ook verskriklik agteruitgegaan. Sy is 03:40 die volgende oggend dood – minder as 24 uur ná Lionel. Dit was aaklig, ek het net daar bly sit nadat sy dood is. Verslae. Stukkend.”

Hul rottweiler, Max, is op dieselfde dag as Lionel dood, vermoedelik weens hitte-uitputting.

Nass sê die familie was stukkend, maar het besluit om sterk te staan omdat Heindrich baie ondersteuning sou benodig. Hy is in die sorg van Nell (haar ma en Heindrich se ouma) geplaas, maar sy het ook nog saam met haar ma in dieselfde huis gewoon.

Sowat ʼn week later het Nell op ʼn dag vir Nass na die kamer ontbied. Sy het gesê sy voel nie goed nie en dat sy glo baie warm kry. Hulle het met Nell hospitaal toe gejaag. “Die dokter het gesê dit is ʼn virale infeksie. Hy het haar ʼn inspuiting gegee, haar hartklop nagegaan en gesê sy is nie in gevaar nie. Die dokter het gesê ons moet later terugkom sodat ons net weer haar hart kan monitor, so ons is huis toe. Ons is sowat drie uur later terug, en die dokter het gesê dié keer het haar hartklop ʼn bietjie versnel. Ons het medikasie gekry en is weer huis toe.”

Heindrich by die skool na sy ouers se afsterwe (Foto: Verskaf)

Nass sê met hul aankoms by die huis het dit voorgekom asof Nell weer beter gevoel het aangesien sy in die huis rondgeloop het. “Ons het nog gedink alles gaan oukei wees, toe skree Heindrich vanuit die kamer: ‘Tannie Elaine! Tannie Elaine!’ Nell het baie swak gelyk en inmekaargestort.

“Sy het gebewe. Ek het my kêrel en skoonseun na die huis ontbied en ons het haar toe na die bed geskuif.

Toe sy op die bed is, het sy haar kop teen my skoonseun se skouer gesit en gesê sy wil net bietjie rus. Ons het so ʼn rukkie net so gestaan en toe sê hy: ‘Ek dink nie sy haal asem nie.’ Ons het weer met haar na die hospitaal gejaag. Ek het haar heeltyd vasgehou en net gehoop alles sou oukei wees. By die hospitaal het hulle haar aan masjiene gekoppel, maar die dokter het gesê sy was reeds 20 minute dood. Daardie hele pad lank van die huis af wat ek haar vasgehou het, was sy reeds dood.”

Nass sê die familie het nie woorde om hul seer te beskryf nie. “Heindrich gaan aan en hy sê goed soos hy weet hy sal hulle weer eendag in die hemel sien. Maar dit vat nie die onmiddellike seer weg nie. Ons weet egter ons sal hierdeur kom. Ek sê net vanoggend vir iemand: Hy is nié ʼn weeskind nie, hy het ʼn familie en ons sal mooi na hom kyk.”

Sy sê die huis is leeg sonder Nell – ʼn vrou wat volgens haar onvoorwaardelik vir ander omgegee het.

Laerskool Grens het intussen foto’s van Heindrich se klasmaats gedeel waar hulle vir hom bid. Die skool het sy medelye met die familie betuig. Nell word Vrydag begrawe. Die presiese besonderhede oor haar begrafnis is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Vicki ·

Kan soveel hartseer een familie op eenslag tref. My hart gaan uit na die familie.

Piet Snot ·

So mooi om te sien hoe die familie saamstaan. En die skoolmaatjies.

Ronel ·

Dis die hartseerste storie….my hart gaan uit na die mense toe. Mag Jesus julle in Sy hand hou en vertroos. Blessings!

Anoniem ·

Mag ons liewe Vader Die familie vertroos en vir Heindrich styd teen sy bors vashou dis do hartseer dat n kind al hierdie dinge op so jong ouderdom moet beleef LIEWE JESUS LIEF JOU HEINDRICH

Arsène Lupin ·

Dit is vreeslik. Mag God jul pyn verlig. Sterkte aan almal.

A Leonard ·

My innige simpate…dit is vreeslik hartseer. Moet egter nie toelaat dat Heinrich op sy eie hierdie trauma verwerk nie, kry asb vir hom hulp….baie sterkte

honourable member ·

Soveel wat die arme kind moet verwerk. Sterkte aan die familie.

Zettie ·

My hart bloei vir die ou seuntjie. Hy lyk soos ‘n regte sonstraaltjie! Sterk staan Heindrich. Daar is baie mense wat vir jou bid en glo dat jy heel aan die anderkant sal uitkom. Baie sterkte vir al die geliefdes wat hierdeur geraak word.

Andrea ·

Liewe klein Heindrich, kan een klein mensie soveel ellende oorkom? Ek is só jammer vir jou. Mag jou oorblywende familie jou met liefde toevou en die Here jou swaarkry ligter maak.

SCHUMI ·

Die jong man kan maar by my kom bly. My seun is ook 10 en sal ‘n goeie boetie vir hom wees

ADELE ·

dis so sad ek kry trane net om dit te lees sy pa sy ma en dan nog sy ouma ook wat gaan deur so kind se gedagtes behalwe om vir amal se te dis beter so ek meen my pa is 4 jaar trug oorlede en ek dink nie ek is oor sy dood nie huil party aande en ek is al in my 20’s

Emmerentia ·

So Jammer om te Hoor Mag Jesus jou Trane Sagkuns weg vee.Alle Sterkte dink aan jou.

Gesiggie ·

Ek huil my hart uit vir wat hierdie seun moes deurmaak…. ai mense hoe verstaan mens die lewe om altwee jou ouers te verloor en dan jou Ouma? om net na sy ou gesiggie te kyk maak my biiter seer…. Mag Jesus jul as familie bystaan en styf vashou en mag die seun net geluk vind in die lewe en mag als mooi wees… Sterkte aan die Familie…

amanda ·

aai soveel hartseer v een ou klein mensie
my hart en gebede gaan uit na julle almal
mag ons Hemelse Vader julle toe vou in sy warm sagte hande en julle troos in hierdie moeilike hartseer tyd
????????

Lizelda Jv Rensburg ·

My hart gaan uit na die arme seun se verlies so kort op mekaar. Dis eintlike ondenkbaar dat soveel hartseer een kind kan tref. My innige simpatie. My dogter was self in Laerskool Grens en toe later H/S Grens en ek moet se die personeel by albei daardie skole is werklik mense -mense met harte van goud en weet hulle sal die seun op alle gebiede ondersteun. Baie sterkte jong man.

Adel ·

Dit is verskriklik hartseer, ai om te dink daai ou seuntjie met al die hartseer….. ons bid vir jou boetie en weet dat liewe Jesus jou baie styf vashou en jou sal troos xx

Nettie ·

Nou vertel enige iemand vir my: is kanker dan nie ‘n “killer disease” nie? Elke derde, vierde mens met wie mens vandag kontak het/maak of van leer, is iemand wat kanker het, weer kanker gekry het of wat iemand ken wat kanker het of aan kanker gesterf het. Die dokters raai, probeer dié behandeling, dan dáái behandeling, dan dít, dan dát en op die ou einde sterf die persoon tog maar aan kanker of aan komplikasies vanweë die kanker of die behandeling daarvan.

My ma is ‘n sprekende voorbeeld: 5 jaar terug ‘n kolonektomie en strawwe kursus chemo ….. en daar is sy vandag maar wéér “terug op die brug” – wéér kanker, wéér operasie(s) en wéér terug in die hospitaal, nou al byna 2 maande lank, met komplikasies na die chirurgie …..

MarieLategan ·

Baie hartseer maar ai ai mense die gesin was 5 lede. Daar is 2 ouer sussies wat ook hulle ouers en ouma verloor het en hulle boetie as baba seker help grootmaak het. Mag God die hele familie koester in hierdie groot hartseer tyd.

Nico ·

My hart gaan uit vir Heindrich en sy familie. Mag die Hemelse Vader Sy HAND oor julle hou , julle vertroos en toevou in Sy genade en liefde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.