Seun (10) verdrink in spruit

Argieffoto

Die liggaam van ’n tienjarige seun is vanoggend (Sondag) gevind nadat hy Saterdag saam met maats in ’n spruit naby Stilfontein in Noordwes gaan swem het en deur ’n stroom meegesleur is.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring Simphiwe Tshabalala het saam met maats op die Malekutu-brug in Khuma gespeel toe hulle besluit het om in die Koekemoer-spruit te swem. Dit is toe dat die kind deur ’n stroom meegesleur is en onder die water verdwyn het.

Polisieduikers is na die toneel ontbied waarna hulle tot laat na Simphiwe in die water gesoek het. Die soektog is vanoggend hervat en Simphiwe se liggaam is omstreeks 10:00 meer as ’n kilometer van waar hy vermoedelik verdrink het, gevind.

Lt. genl. Sello Kwena, polisiehoof in Noordwes, het sy kommer uitgespreek oor die aantal voorvalle van verdrinking veral onder jong kinders.

Altesaam vyf kinders tussen die ouderdomme van drie en 17 jaar oud het tussen 30 Desember en 4 Januarie in die provinsie verdrink.

Kwena het ouers gevra om seker te maak dat hul kinders te alle tye veilig is, veral ná swaar reën in die provinsie uitgesak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.