Seun (12) neem eie lewe: Ouers wil ‘bose kringloop’ breek 

“Hy was soos ʼn sponsie en die lelike goed wat vir hom of sy maatjies gesê is, het hy alles opgesuig en nooit êrens gaan uitdruk nie.”

Só sê Arina Odendaal oor haar 12-jarige rooikopseun Herman wat verlede Sondag sy eie lewe geneem het by sy gesin se huis in Kestell in die Vrystaat. In ʼn briefie wat hy agtergelaat het, het hy gesê hy voel alleen, dat hy nie vriende het nie en dat hy ʼn loser is.

Dis sy hare, sproete en die nr. 10-skoen wat hy gedra het wat hom glo die teiken van boelies gemaak het.

“Dis nie een ding wat ʼn kind breek nie. Dis ʼn klomp goed. Dis vir my hartseer dat ons so ʼn oop verhouding gehad het, maar dat hy nooit daaroor kon praat nie.”

ʼn Roudiens is Vrydag vir Herman in die NG Kerk Kestell gehou. “Dit was baie seer om vir my kind goodbye te sê. Maar dit was regtig ʼn mooi diens en ʼn viering van sy lewe.”

Sy glo dat God in daai oomblik voor sy dood met Herman gepraat het en vir hom gesê het sy werk op aarde is klaar en dat hy nou moet huis toe kom.

“Hy was ʼn baie spesiale kind en het ʼn noue verhouding met God gehad. Hy sou nooit ander te na kom of seermaak nie al was hy in staat om homself te verdedig.

“Soveel maatjies het briefies en boodskappe gestuur na sy dood. En so baie van hulle het dankie gesê dat hy namens hulle teen boelies opgestaan het. Hy het baie houe vir hulle gevat. ʼn Vuishou word vinnig gesond, maar ʼn hou met die mond is baie erger.”

Die boom waar Herman sy lewe beëindig het, is verlede Maandag afgesny. Daar is ʼn houtkruis geplant met klippies, wat Herman se maats gebring het, wat om die kruis gepak is. By die stam kom daar nou ʼn grasgroen takkie uit. “Hier in die middel van die Oos-Vrystaat waar dit vrek koud is. Daar waar dit lelik, rou en seer is, kom daar tog vernuwing en groei.”

Odendaal glo dat die afsonderingstydperk weens die Covid-19-pandemie ook ʼn invloed op haar seun se gemoed gehad het. Hy was rugbymal en toe is die rugbyjaar ewe skielik daarmee heen. Die skool het weer begin, maar die klasse was nie meer dieselfde nie en daar was baie werk. “Mens besef nie wat die afsonderingstydperk aan ʼn kind se psige doen nie.”

Odendaal voel dit is belangrik om te praat oor wat gebeur het. “Mens moet eerlik wees daaroor en dit nie onder die mat invee nie. Ek dink nie mens kom ooit daaroor nie. Jy kan daarmee cope as jou geloof sterk is en die Here vat jou hand en wys vir jou ʼn pad.”

Vir haar en haar man is dié pad ʼn bewusmakingsveldtog oor boeliery. Sy is nie kwaad vir die kinders wat haar seun geboelie het nie. “Ek weet nie wie sy boelies was nie. Dit wat hulle aan hom gedoen het, kom uit ʼn donker plek in hul harte wat beteken hulle moet ook baie seer hê. As jy seer het en nie ʼn uitlaatklep daarvoor het nie, gaan jy die volgende ou seermaak. Dis ʼn bose kringloop.”

Sy wil dié kringloop breek. Kinders wil nie noodwendig met hul ouers, onderwysers of ʼn berader praat nie. “Hulle wil met mense van hul eie ouderdom praat.” Odendaal gaan skole kontak en voorstel dat hulle ʼn sogenaamde “buddy system” in plek stel waar kinders in elke graad uitgewys word en ʼn kenteken dra sodat ander kinders weet hulle kan met hom of haar praat.

“Daardie maatjie gaan nie als vir juffrou of ma vertel nie, maar kan vir ʼn onderwyser sê daar is ʼn probleem sodat hulle die kind kan dophou. Daar moet vertroue wees.”

Odendaal gaan haar seun se glimlag en die vroegoggend koffie mis. “Sy mondhoekies het altyd so opgetrek as hy glimlag. Hy het verskriklike mooi maniere gehad en was ʼn vreeslike dankbare kind.” Hy het elke oggend vir sy ma koffie aangedra voor sy moes werk toe ry.

“As ek kon, sou ek enigiets doen om my kind terug te kry. Ek kan nie. Maar ek kan ander mense help. En deur ander mense te help gaan dit vir my en my gesin genesing bring.”

Luister as jou kinders met jou praat, sê Odendaal. Let op daarna as hulle ewe skielik begin stiller raak en in hulself keer. Of as goed wat altyd vir hulle lekker was, nie meer dieselfde reaksie ontlok nie. Moenie te veel druk op jou kind sit nie.

“Ek sê altyd: of my kind nou eendag ʼn loodgieter, ʼn dokter, ʼn aktrise of ʼn prokureur is, maak nie saak nie. Solank jy ʼn goeie mens is wat omgee vir ander en ʼn goeie hart het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Juls

Dis baie hartseer

Louise

RIV engel kind, ek ken jou nie maar ek weet hoe dit voel om as kind geboelie te word. Ek het ook as kind baie oor selfdood na gedink, gedink dis beter. Gewonder wat die lewe inhou as almal jou lelik behandel, ek weet tot vandag toe nie hoe ek deur dit is nie. Maar dit gee my hoop met die ouers se beplanning oor hoop deur boelies, liefde en omgee vir kinders wat vasgevang is in dieselfde omstandighede. Ongelukkig besef daardie boelie kind nie wat hulle veroorsaak nie. Vir hulle is dit vermaak wanneer almal saam lag. Hoop elke… Lees meer »

Magda

Ai -dis baie tragies – Boelies het geen idee wat hulle aan n kind doen nie, en hoe gaan n mens dit ooit stop? Rus sag Herman!

Carina

Baie hartseer. Sterkte aan ouers. RIV

Marcia

ai kindjie , rus in vrede, wanneer gaan elke skool ‘n plan in plek he met boelies, dit gebeur en gebeur, maar ons sien geen plan daarvoor nie