Seun (12) tydens visvanguitstappie deur krokodil aangeval

Landré Cope (Foto: Verskaf)

ʼn 12-jarige seun van Pretoria herstel van geringe beserings nadat hy die afgelope naweek in die Rust De Winterdam in die suide van Limpopo deur ʼn krokodil aangeval is.

Landré Cope, wat binnekort sy hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Mosselbaai begin, is kort ná die voorval na ʼn hospitaal geneem waar hy steke vir oop wonde aan sy hande ontvang het.

Volgens Cliff, Landré se pa, was Landré saam met ʼn vriend en dié se pa by die dam vir ʼn daguitstappie toe die voorval plaasgevind het.

Hy sê die voorval het Sondag omstreeks 16:00 plaasgevind. “Ek was nie self saam met hulle by die dam nie, maar ek verstaan dat hulle besig was om vis te vang toe die krokodil hom aangeval het. Landré was kniediep in die water en het sommer met ʼn handlyn visgevang. Hy het egter ná ʼn wyle besluit dat hy vir eers klaar was, en het na die oewer begin loop toe die krokodil skielik van agter gekom het,” vertel hy.

Volgens Gideon, die vriend se pa wat oor hulle toesig gehou het, was dit ʼn reusekrokodil van ongeveer 3 m groot. Cope sê die krokodil het Landré aan die hand gegryp en hom toe na onder die water getrek.

“Gideon se voete is stukkend onder soos hy oor die klippe gehardloop het om Landré te help. Landré was reeds onder die water toe Gideon by dié deel van die water uitgekom het. Die krokodil het egter nie ʼn vaste greep gehad nie omdat hy Landré aan die hand gegryp het, en Gideon het hom toe aan die arm gegryp en uit die water getrek.”

Die beserings wat Landré opgedoen het (Foto: Verskaf)

Volgens Cope het hulle “weens die adrenalien” die krokodil met klippe bestook om hom verder die water te probeer injaag. Beide Gideon en Landré kon daarin slaag om weer na die oewer terug te keer.

“Landré het glo eers in trane uitgebars toe hy by die tent aangekom het. Mens besef nie wat in só oomblik gebeur nie – hy sê hy het aanvanklik maar gedink dat iemand met hom speel voordat hy die krokodil se stert gesien het. Hy het geskree, maar hy was nie seker of iemand hom gehoor het nie omdat mens nie in die oomblik reguit kan dink nie. Hy het ook nie aanvanklik enige pyn gehad nie omdat hy in erge skok was oor wat gebeur het.

“Ons het hom na die kliniek geneem waar hulle sy wonde skoongemaak het voordat hy na ʼn hospitaal geneem is vir steke. As die krokodil hom aan die arm gegryp het en ʼn sterker greep gekry het, het Landré dalk nie uit die water gekom nie. Ons sou dalk dan nie eens ʼn seuntjie gehad het om te begrawe nie, maar hy is vir ons gespaar,” het hy gesê.

Hy sê die gesin, wat baie onlangs na die Wes-Kaap verhuis het, sal in die toekoms liefs by die see visvang. “Daar is nou wel haaie, maar hulle gaan nie op die klippe klouter en ons in gevaar stel nie,” terg hy. “Dis waarskynlik maar die veiliger opsie vir die toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

anneke ·

Herdertjie my kind! As jy dalk nie aan God glo nie, hoop ek het jy van opinie verander na dese. Of ons dit glo of nie, ons asem word gegee en ons asem word weggeneem. Dis die ‘hoe’ van ons
weggeneemde asems wat die onsteltenis veroorsaak. Genadiglik het ons siele nie asem nie, diè gaan aan tot in ewigheid.

Oppas ·

Sjoe gelukkig is hy nie ernstig beseer nie . Ons was ook daar die naweek en by die hek is uitdruklike waarskuwings om nie in die water in te gaan want daar is krokedille! Jy as ouer of toesighouer moet ag gee op sulke waarskuwings

Anel ·

Ek stem 100% saam met jou Oppas. Ons besoek ook gereëld die spesifieke dam en almal is bewus daarvan dat daar krokodille en seekoeie is. Daar is ook waarskuwings op om mense te waarsku. Dit gaan my verstand te bowe hoekom mense sulke goed net ignoreer. Laat dit nou ‘n les wees vir ouers en kinders, waarskuwings is daar vir ‘n rede. Bly die kind is darm nie ernstig beseer nie.

Skerpioen ·

Jinne Boeta, God se engele het jou bewaar. Jy is inderdaad ‘n gelukkige outjie. Mag jy sommer nog ‘n baie vol gelukkige en geseende lewe hê.

LB ·

Ja dit is groot nuus. Hoe lekker om iets te lees wat ‘n goeie einde het. Jy is geseënd Landrè

Lizette ·

Baie welgedaan aan die man wat so vinnig opgetree het en toesig gehou het!Dit kon baie anders gewees het…as jy vir n minuut weggekyk het en nie toesig gehou het nie,was dinge dalk nou baie anders!Sterkte seuna!

Rerig ·

Die toesighouer moes in die eerste plek nie dat die kind knie diep in water ingaan waar daar krokkedille is nie.. of nog meer visvang in die water waar krokkedille is nie, jy vang vis met aas. Aas lok roofdiere. ja hy het vinnig gedink en kon die kind te redde kom maar vat mens n so n onverantwoordelike kans met n kind se lewe. Daar is waarskuwings oral op. Komaan!!!

Gert ·

Landre hierdie is ‘n wonderwerk glo my ek is ‘n natuur fanatikus en lees en kyk baie oor krokodille op Seun jy moet op jou kniee gaan en die Here dank dat jy nog vandag hier is
gaan kyk op youtube die ontsetende sterk krag wat krokodille het jy sal koue rillings kry
sterkte en hoop jy word gou gesond.

Andrea ·

Baie gelukkige seun! Wat n storie om vir sy kinders te vertel eendag.

Cherokee ·

Dit was dalk ‘n mak krokkodil… òf ‘n spelerige jongeling.

Krokodil ·

Wat ‘n awesome ding om te oorleef! Wat ‘n storie om te vertel! Met die scars en koerant-uitknipsels ‘to prove it’!
All’s well, that ends well! Bly jy is okay, my brawe Landré!

Gesiggie ·

Dankie Jesus dat U die seun se lewe gespaar het…. dit kon baie erger gewees het, om teen so n groot krokodil te probeer veg is magteloos”’En dankie ook aan Gideon se optrede. Alle sterkte vir die seun mag jou byt merke gou herstel.

Sonja Bakker ·

Ons was net voor Kersfees vir n paar dae daar en n groot krokedil het my man se voer merker kom haal in die water so 10meter van ons af , toe ons met die boot uitgaan het ons seker 5 van hulle aan die oorkanste ower sien le en bak!! En grotes Toe ons ander kinders waarsku om uit die water te bly het die jong klomp ons afgelag en gedink ons maak grappies met hulle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.