Seun (13) geopereer ná patroon in hand ontplof

Darius Hay in die hospitaal. Foto: Facebook

Darius Hay in die hospitaal. Foto: Facebook

Darius Hay, die tienerseun van Odendaalsrus in die Vrystaat wat vier vingers verloor het toe ʼn swaarkaliberpatroon in sy hand ontplof het, sal na verwagting vandag ʼn noodsaaklike operasie ondergaan met die oogmerk om nuwe vel op sy hand te laat groei.

Erika Hay, Darius (13) se ma, het aan Maroela Media gesê Darius se hand sal onder die vel van sy lies vasgewerk word om die vel kans te gee om oor die hand te groei. “Sy duim, wysvinger en middelvinger en die voorste stuk van sy ringvinger is heeltemal weg. Hy het nog sy handpalm, maar die vel oor die bokant van sy hand is heeltemal weg,” het Erika gesê.

Darius is Maandag van die Laerskool Odensia in Odendaalsrus, waar die voorval gebeur het, na ʼn hospitaal in Welkom gehaas. Een van sy vriende het glo die patroon skool toe gebring en gesê hy het dit by sy oupa gekry. Die vriend het glo gesê die patroon is onskadelik omdat die kruit uitgehaal is. Darius het die patroon teen ʼn lamppaal gekap en dit het in sy regterhand ontplof. Sy regterskouer is ook beseer toe die koeël vermoedelik heeltemal deur die skouer gegaan het.

Volgens ooggetuies het Darius skreeuend weggehardloop en ʼn ent verder inmekaargesak. “Daar is twee seuns by daardie skool wat absoluut helde is. As dit nie vir hulle was nie, was Darius nie vandag hier nie,” het ʼn emosionele Erika gesê. Een van die seuns het na die personeelkamer gehardloop om hulp te ontbied en die ander het vir Darius opgetel en met hom na die kantoorgebou se voorportaal gehardloop.

Darius Hay in die hospitaal. Foto: Facebook

Darius Hay in die hospitaal. Foto: Facebook

“Ek het eers gister by my suster gehoor van die twee seuns wat vir Darius gehelp het. Hulle het flink gedink en vinnig opgetree om my kind te help en ons kan nie genoeg vir hulle dankie sê nie.” Darius is Maandagmiddag na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas. Hy sal hier opereer word voordat hy na die Universitas- akademiese hospitaal oorgeplaas sal word sodat ʼn chirurg daar sy herstel kan monitor.

Volgens Erika is Darius heeltemal bewus van wat gebeur het en verstaan hy die omvang van die beserings. “Ons steek niks vir hom weg nie en hy verstaan wat aangaan. Al wat hy vir my sê oor die saak is dat hy net bly is nie een van sy maats het seergekry nie,” sê Erika. “Hy weet sy vingers is weg, maar hy kan hulle nog voel jeuk. Hy is in dié stadium op baie sterk antibiotika om te verhoed dat hy infeksie kry. Sodra die operasie afgehandel is, sal dit vier weke neem om die vel kans te gee om te groei voor die volgende operasie gedoen sal word.”

Sy sê dat sy probeer om sterk te wees vir Darius, maar dat sy soms sukkel om die trane te keer. “Party kere dink ek dat alles seker maar met ʼn doel gebeur en ander kere wil ek net my gesig in ʼn kussing druk en huil,” sê sy. “So ou patroon is baie gevaarlik. Dit is onstabiel en sensitief. Ek voel met tye so kwaad oor wat gebeur het, maar ek weet dit sal nie my kind se hand terugbring nie.”

Erika sê sy is hartseer dat sy nie heeltyd by Darius sal kan wees terwyl hy herstel nie. “Ek moet Sondag teruggaan huis toe omdat ek Sondagaand moet werk. Ek is ʼn kassiere en ek werk skofte, so ek moet werk vir ons om te oorleef. Toe ek dit vir Darius sê, het hy net gesê: ‘Mamma, ek verstaan’. Ek het vir hom gesê dat ek soveel as moontlik sal kom kuier en hy het net soveel begrip vir alles. Nou moet ons net hierdie operasie agter die rug kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jorrie Jordaan ·

Sterkte Darius met suksesvolle herstel. “You have to live with it now.”
Jou vriende het iets geleer hieruit.

Ronel ·

‘n Soortgelyke geval het met een van my laerskoolmaats gebeur, maar dit was met ‘n .22 patroon. Darius het net baie seerder gekry. Sterkte outjie!!!

Ronel ·

Kan ons dalk kontak maak met Darius se mamma. Ons kan hom besoek in hospitaal en eetgoedjies neem.

Jacqueline ·

Dit is wonderlik! Nounet gewonder hoe dit moontlik gemaak kon word….ek is van RTB. Julle is wonderlike mense. Dankie vir mense wat omgee…

Sarie ·

So-iets gebeur in ‘n oogwink, maar het lewenslange gevolge… Sterkte metti operasies & behandeling wat daarop volg, Darius…. Gelukkig is die medici baie gevorderd & hulle verrig “wonderwerke”!!! Ek het juis gister ‘n video ontvang van hoè sommige mense hul gestremdhede aanvaar & bò hul situasies uitstyg… Wens ek kon dt met julle deel; dis ongelooflik!!! Baie hang af van ‘n mens se ingesteldheid… Ek glò dat jý niè sal toelaat dat dinge joù onderkry nie….

ouma ·

Shame ja, dit was nou ‘n duur en seer les om te leer. Jou kinders sal jou eendag glo as jy vir hulle vertel hulle moenie met patrone speel nie! Ons glo en vertrou dat jy vinnig sal herstel. Gelukkig maak ‘n hand wat gedeeltelik verloor is nie soveel saak in die lewe nie. Dit is wat binne-in jou hart is, wat saakmaak.

Lola ·

Ek is in my 40s en ek het nie geweet ‘n patroon kan ontplof nie. Gewere is nie deel van my lewe nie so hoe sou ek dit geweet het? Maar nou weet ons almal.

charlene ·

Mamma ek is die berig so lees en jou seun se antwoorde lees moet ek net eers sê “welgedaan jy is `n amazing ma, en die vrou wat eendag met jou seun gaan trou gaan `n damm goeie man hê” sy hele houding is net amazing, hy is so sterk, en sy mamma se sterk seun, hy is nog baie jonk maar tog so volwasse. Ek is jammer jy kan nie heeldag daar sit en net daar wees nie – dit kan glad nie maklik wees nie. Ek hoop hy word gou gesond. (hartseer genoeg ek het ou patrone in my kas van my oupa… wat na vandag moet weg!) Stekte en mag God jou dra en mag jou seun baie gou herstel.

Griki ·

Jy slaan die spyker netjies op sy kop, Charlene. Dit moet ‘n amazing ma wees wat so ‘n amazing seun het.

Griki ·

WOW, wat ‘n emosioneel volwasse en dapper jong man! Darius, ek glo dat die Here ons nooit ‘n kruis gee wat té swaar is om te dra nie en met jou dapperheid en verstaan dat jou ma moet werk vir julle om te oorleef, word dit bewys. Ek bid en hou styf duimvas vir jou, maar ek weet reeds jy sal soos ‘n kampioen deur hierdie trauma kom en nog groot hoogtes bereik. Sterkte!

Jo-Ann Hay ·

Ek is die ouma en kan ook nie by Darius wees nie all will ek so graag. En ek dink Darius sal dit baie waardeer all gaan se julle net hello hy is ‘ n amazing persoon

LS ·

Dankie vir daai dapper seuns wat vir Darius gehelp het, julle is AWESOME !!!
Sterkte Darius, hoop jy word gou gesond jong, sterk wees !
Sterkte aan jou mamma ook, shame, dit kannie lekker wees om jou kind in ‘n hospitaal agter te los nie, maar mens moet werk ! Wens ek kon help !

CHRISTA ·

Sterkte aan jou Datius! Die liewe HERE sal jou ELKE DAG deurdra!!

Ek is net BITTER ontsteld omdat sy vriend vir hom gelieg het en gesê het die patroon is veilig want die kruit is uitgehaal!!!

Hennie ·

Ek wil net vir Darius en sy familie sterkte toewens. Die mense wat aanbied om die mannetjie te gaan ondersteun wil ek net sĕ julle is engele en dat julle geseend sal wees.

F Smith ·

Die mense wat sy moeder wil uithelp, ek dink jul kan met haar op facebook in kontak kom. Daar groep gestig met naam: Darius Hay Love & support

charmaine ·

Sterkte Daruis! Wapens en koels is baie gevaarlik! My suster se seun, michael is dood. Hy was maar net 12 jaar jonk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.