Seun (13) se dood ‘geweldige slag’ vir skool

Michal Roux. Foto: Facebook via Laerskool Stellenbosch

ʼn Gedenkdiens word Maandag gehou vir die 13-jarige Michal Roux wat Dinsdag sy eie lewe geneem het.

Die Laerskool Stellenbosch het gesê personeel en leerders het met baie groot skok en hartseer verneem van Michal, ʼn gr. 7-leerder, se dood. “Dit is vir ons ʼn geweldige slag wat ons skoolgemeenskap baie diep raak. Ons gedagtes, gebede en innige simpatie is met die Roux-gesin in hierdie baie moeilike omstandighede.”

Die skool het ook sy dank aan die Hoërskool Stellenbosch se leerders en personeel uitgespreek wat simpatie betoon het deur blomme rondom die laerskool se fonteintjie te plaas. Die gedenkdiens vind om 15:00 vanuit die NG Moederkerk Stellenbosch plaas.

Maroela Media het vroeër berig Michal het Dinsdagoggend sy eie lewe geneem by sy ouerhuis in Stellenbosch.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê die seun het homself kort ná 08:00 geskiet. Die polisie was op die toneel waar die seun met ʼn kopwond aangetref is. Hy is op die toneel dood verklaar.

Die seun se ouerhuis is naby Laerskool Stellenbosch. Hawkie de Villiers, hoof van die Laerskool Stellenbosch, het vroeër gesê leerders is van Michal se dood ingelig waarna daar berading verskaf is.

De Villiers het gesê die leerders is in groepe gedeel waarna beraders hulle toegespreek het. Daar is ook afsonderlik met Michal se vriende gesels.

Michal laat sy ouers en sy suster, ʼn gr. 9-leerder aan die Rhenish Girls’ High School, agter.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hartverskeurend ·

Ai my liewe kind. Wat het jou sover gedryf dat jy nie lig kon sien nie. Mag jy vrede ervaar waar jy nou is mooiste seun.

leon pit ·

Jul is in ons gebede sterkte aan die wat agter bly.
God bring vertroosting.

Sandy B ·

Genade maar dit breek my hart! Ons as ouers moet soveel meer betrokke wees by ons kinders. Die ou lewe van ons het baie moeilik geraak. Ek dink aan julle as ouers – moet ‘n ongelooflike ding wees om deur te gaan. Baie sterkte.

Jean ·

Ag nee..moet se ek sluk aan n knop in my keel…liewe seun hoekom tog….mag die Here jou dra en na jou familie se hartseer omsien…

Ann ·

Sjoe. Wat dryf so ʼn pragtige kind na so iets? Ek blameer nie die ouers op die een nie, want tieners is nie geneig om te praat oor wat hulle hinder nie. RIV pragtige kind.

jakes ·

Hartverskeurend en tragies. Mag God julle versterk in julle smart. Wat n pragtige kind.

30-jarige seun ·

Dit is baie hartseer. Ek wonder nou of tieners aanskou wat in ‘n land aangaan en dink dat daar geen toekoms is wat lei tot selfmoord (nie te praat oor druk van die samelewing)? Praat ouers met hul kinders oor kwessies wat in die land aangaan en help hulle of is dit iets wat ouers nie ag as ‘n moontlikheid nie? Ek vra net, ek het self nie kinders nie.

LORRIE ·

Maroela – ons kan weer ens nie die foto,s oop maak nie. sterkte aan die familie. Mag God julle omvou in hierdie moeilike tyd

Gesiggie ·

My Liewe mens… jy was nog so jonk en so n prag van n seun? dit is so hartseer as daar maar net n ander uitweg was.. my Innige meegevoel aan Michal se ouers, sy suster en vriende, ons het geen reg om vrae te vra, daar moes n rede wees hoekom hy dit gedoen het.. ouers moet maar altyd kyk na enige verandering in jou kind se gedrag- ook maar altyd vra hoe dit gaan by die skool of daar enige probleme is, is daar n Boelie? kinders word aan te veel dinge bloot gestel..en ook agv al die druk in vandag se lewe verloor ons hoop en dan kan dit lei tot erger gevolge. Mag God jul dra deur die tyd van hartseer. RIP Michal..

Hartseer ·

My hart gaan uit na sy geliefdes en mag hul Hemelse Vader hulle toevou en vertroos in Sy Goddelike Liefde. Moenie vra hoekom mense nie sy hartseer/bekommernis raak gesien het nie!! Op sy ouderdom praat kinders nie maklik oor wat hulle pla nie! Jammer dat so ‘n pragtige seun so moes sterf. Baie sterkte aan die ouers en die sussie!

Elsa ·

Geen selfmoord is normaal nie en dis baie onregverdig om te sê ‘n skoolseun van 13 doen nie so iets nie en vir die ouers te vra wat hom dit laat doen het. Ouers wat in die diepste skok en smart verkeer, het nie nog sulke vrae van onsensitiewe mense nodig nie. Sterkte aan die ouers en die sussie en mag julle vertroosting vind, al kry julle dalk nooit self die antwoorde nie. Net God alleen kan julle dra deur hierdie tyd.

Net nog 'n ouma ·

Hoekom het hy toegang tot ‘n skietding gehad of geweet waar die kluis se sleutels was?
Dit is hartseer. Sterkte aan al die famile en vriende. RIV

Anel ·

“Net nog ‘n ouma” … ongelukkig in vandag se dae, hoe gevaarlik ook dit mag wees … moet ons kinders weet waar die kluis se sleutels is om hulself te beskerm teen die geweld in SA. Hulle moet ook weet hoe om ‘n wapen te gebruik, sou dit nodig wees … maar ek verstaan jou vraag ook. Baie baie hartseer wat gebeur het. Innige meegevoel aan almal betrokke.

Buffel ·

Mens wens jy was daar om hom te kon help. En hom te laat dink dat ‘n hele toekoms voorle en dat wat vandag soos ‘n berg lyk more ‘n molshoop is. Dis onnodig dat dit so moes eindig vir hom. Bid vir sy familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.