Seun (14) sterf na hy glo wurgspeletjie speel

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 14-jarige seun van Pietermaritzburg is dood in sy kamer aangetref nadat hy vermoedelik die wurgspeletjie gespeel het.

Konst. Mthokozisi Ngobese, woordvoerder van die polisie, het gesê die seun se pa het hom Vrydag by die skool gaan oplaai voordat hulle huis toe is. Volgens Ngobese het die pa sy seun, ʼn gr. 9-leerling, omstreeks 17:00 dood gekry in sy kamer.

Ngobese het gesê daar was ʼn gordel aan die kamer se deurhandvatsel vasgemaak. Hy het gesê daar kan in dié stadium nog nie met sekerheid gesê word dat die seun wel die wurgspeletjie gespeel het nie. Volgens Ngobese sal die nadoodse ondersoek die presiese oorsaak van die seun se dood bepaal. ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen.

Die seun se pa het aan The Mercury gesê sy seun het hom ʼn paar weke voor sy dood oor die wurgspeletjie uitgevra waarna hy hom oor die gevaar daarvan ingelig het. Die seun sou oor drie weke sy 15de verjaardag vier.

Tydens die wurgspeletjie (“choking game”) wurg kinders mekaar of hulself met ʼn tou of gordel in ʼn poging om “hoog” te raak. Talle kinders het reeds gesterf of het permanente breinskade opgedoen weens dié gevaarlike speletjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

scalla ·

Tragies, wat gaan aan met vandag se kinders, daar is baie ander minder gevaarlike speletjies wat hul kan doen, bv tuinwerk

Peet Schabort ·

Ek stem saam scalla. Slegs ‘n tuinvurk deur die voet wat nie so erg is.
Dit is werklik verontrustend en iewers is ‘n GROOT skroef los.
Simpatie met die ouers wat baie vrae vra sonder antwoorde.

Se maar net ·

Dit is erg hartseer om ‘n kind aan die dood af te staan, maar ek dink dit is erger as so iets
met jou kind gebeur. Tuinwerk? Ag hel vandag se kinders doen nie sulke goed nie. Moenie
heeltemal laf staan en raak nie. Hulle is almal rekenaar foendies en takies by die huis is
beslis nie op hul agenda nie.
Bsie sterkte aan die hele gesin,

Sanet ·

Dit is baie hartseer. So ‘n jong lewe. Baie sterkte aan sy familie en vriende. Ek hoop regtig dat sy maats wat gebeur het ter harte sal neem en mekaar aanmoedig om eerder van sulke speletjies weg te bly. Die lewe is baie mooier as dit en ‘n mens kan nie so met jou lewe speel nie. Jy kry net een, koester dit.

Natasha ·

As my kind my oor so ‘n speletjie vra sal ek honderd meer vrae aan hom/haar vra en dan die gevaar duidelik uitspel deur dit op te soek op Google of iets en dan die voorvalle van kinders wat dood is voorlees en voorhou!

yolanda ·

Dit het by my huis gebeur seuns en meisies by graad 7 partytjie. Ek het die ouers en skool dadelik gevra om hulle kinders in te lig. Want kinders vou onder groepsdruk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.