Seun (14) verdrink in dam: ‘Hy was my sonskynkind’

Wian Vosser. Foto: Facebook

Wian Vosser. Foto: Facebook

ʼn Gebroke ma van Christiana in Noordwes het vertel hoe sy ure lank hulpeloos moes toekyk hoe duikers na die liggaam van haar 14-jarige seun soek nadat hy Saterdag in die Bloemhofdam verdrink het.

Wian Vosser (14), ʼn gr. 8-leerder aan die Gekombineerde Skool Christiana, het Saterdag verdrink toe hy saam met sy 12-jarige neef in die dam geswem het. Wanita Vosser, Wian se ma, het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy sukkel steeds om die werklikheid van haar kind se dood te besef.

“Ek is al gedaan geskree en gehuil. Ek voel al leeg van al die trane,” het sy gesê.

Volgens Wanita het Wian en die neef saam met die neef se pa die Saterdag dam toe gegaan om te gaan swem, visvang en uitspan. Sy sê dat Wian en die neef groot maats was en gereeld saam met die neef se pa oor naweke na damme in die omgewing gegaan het om te swem. “Die neef se pa het Saterdag vir Wian daar by die huis kom oplaai en Wian is vrolik daar uit met ʼn ‘baai, Mamma!’. Dit was die laaste keer dat ek my kind gesien het.”

Wanita vertel dat Wian en sy neef in die dam geswem het en Wian in ʼn stadium op ʼn groot klip in die dam geklouter het. Die neef het na ʼn eiland in die middel van die dam probeer swem, maar van plan verander en vir Wian gesê hulle moet terugdraai. Toe Wian van die klip af terug in die water spring, het hy in die moeilikheid beland.

“Ek weet nie of daar ʼn stroom was of wat nie, maar iets het hom onder die water in getrek. Sy neef het hom probeer optrek, maar hy is kleiner as Wian en kon dit nie regkry nie. Toe Wian onder die water verdwyn, het die neef hard om hulp geroep en twee mans wat ook by die dam was, het hulle te hulp gesnel,” het Wanita gesê.

“Een van die mans het saam met die neef uitgeswem terwyl die ander Wian probeer opspoor het. Hy het later vir my gesê Wian was klaar te diep onder die water en hy kon hom glad nie meer sien nie.”

Die polisie is ontbied en hulle het na Wian gesoek totdat dit te donker geraak het. Met dagbreek Sondag is die soektog hervat en sy liggaam is kort daarna uit die water gehaal.

Wanita het gesê volgens haar kennis was die neef se pa nie saam met Wian en sy seun by die dam toe die twee seuns geswem het nie. Hulle was dus sonder toesig in die water. Die pa en seun was glo ook nie by die dam toe sy Saterdagmiddag daar aangekom het nie. Sy het sedertdien ʼn siviele klag teen die pa aanhangig gemaak omdat sy glo dat hy nalatig opgetree het.

Intussen berei sy haar voor vir Wian se roudiens wat Saterdag in Christiana sal plaasvind. “Ek is so stukkend en ek weet die moeilikste lê nog voor. Ek voel nog steeds histeries, maar ek probeer my emosies beheer,” het Wanita gesê.

“My kind was net die mooiste, dierbaarste kind onder die son. Hy kon lekker stout wees, maar dierbaar stout, nooit lelik stout nie. Hy het my, sy sussie, sy tannies, ons almal se lewe net so baie verryk. Hy was my sonskynkind.”

Konst. Maselela Langa, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.