Kol. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, het gesê die 15-jarige seun het van die skool af by die huis in Rockfordweg aangekom toe hy op sy boetie en die huishulp afgekom het. Hanif Loonat, ’n plaaslike gemeenskapsleier, het aan Maroela Media gesê niemand by die huis het vir die seun oopgemaak nie waarna hy oor die muur gespring het. Die seun het hierna hulp by die bure ontbied.
Volgens Kinana is die 57-jarige huishulp op die toneel dood verklaar. Die seuntjie is op die toneel behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas waar hy met sy aankoms dood verklaar is. Loonat het gesê die seuntjie het glo met sy fiets gery toe hy in die swembad geval het. Die huishulp het die seuntjie glo uit die swembad probeer red toe sy ook in die moeilikheid beland het.
Loonat het die seuntjie geëien as Seth Reid. “Ek wil ʼn beroep doen op mense van die gemeenskap om ʼn net of heining om hul swembad te sit. Bestee eerder die geld, want jy kan nie jou kind vir R2 000 vervang nie.”
Kinana het gesê ’n geregtelike doodsondersoek is by die Lansdowne-polisiestasie begin.
Ai dis hartseer. Voel veral ook baie jammer vir die arme kind wat op die aaklige toneel moes afkom. Ek stem – omhein jou plek en verder dink ek dit moet verpligtend wees dat mense wat swembaddens het hulle kinders MOET swemlesse laat neem. Daar is mense wat hul BABAS laat neem, dis nooit te vroeg. My twee het van ouderdom 3 geneem en ons het nie eers ‘n swembad gehad nie, maar ek het geweet – een of ander tyd is mens by iemand met ‘n swembad en voorsorg is beter as spyt.