Seun (15) oorleef ongeluk waarin 4 sterf

Argieffoto

ʼn 15-jarige seun het Saterdagaand ʼn ongeluk buite Groblersdal in Limpopo oorleef waarin vier ander mense gesterf het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die botsing het omstreeks 21:55 in die Dennilton-omgewing gebeur. “Daar word beweer dat die bestuurder van ʼn Isuzu-dubbelkajuitbakkie met vyf insittendes beheer oor die voertuig verloor het en dit toe omgeslaan het. Een persoon is op slag dood,” het Ngoepe gesê.

Die vier ander insittendes is na ʼn hospitaal gehaas en een van hulle is met die aankoms by die hospitaal dood verklaar. Twee ander het later die aand aan hul beserings beswyk. Die tienerseun is in die hospitaal behandel en later ontslaan.

Volgens Ngoepe is die oorledenes intussen geïdentifiseer as Ntiki Mbethe (57), Montshwa Petrus Phebello (60), Ramaleba Tomas (52) en mnr. D Molefe (57). Al die oorledenes is van Brits in Noordwes afkomstig.

ʼn Saak van strafbare manslag is aanhangig gemaak en die oorsaak van die ongeluk word deur die polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.