Seun (17) gewond, kind (2) dood ná skietvoorval

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Die polisie in die Oos-Kaap is op soek na ʼn man wat Saterdag ʼn 17-jarige seun van Helenvale naby Port Elizabeth beseer en ʼn tweejarige kind doodgeskiet het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê die voorval het in Hartbeesstraat plaasgevind.

Volgens Naidu het die verdagte, glo ʼn lid van ʼn bende in dié provinsie, “vanuit ʼn oop stuk veld” gekom waarna hy op die 17-jarige seun losgebrand het.

“Die seun het in die straat ingehardloop, maar die verdagte het aangehou om op hom te skiet,” sê sy. “Die tweejarige, Hakeem Baartman, wat ten tyde van die skietvoorval in die straat gespeel het, is deur ʼn dwaalkoeël doodgeskiet. Hy is in die kop gewond.”

Naidu sê die 17-jarige seun is tydens die voorval in die nek gewond.

Die polisie sê alle tekens dui daarop dat die skietery bendeverwant is. Sy het bevestig die polisie ondersoek ʼn saak van moord en poging tot moord.

Genl.maj. Funeka Siganga, polisiebevelvoerder, het die gemeenskap aangemoedig om die polisie van meer inligting rakende die voorval te voorsien. Siganga het dié “sinnelose dood van ʼn onskuldige kind” veroordeel.

Enigeen met meer inligting kan die misdaadnoodlyn by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leahim ·

Die publiek gaan nie vorentoe kom met inligting nie omrede hulle nie die polisie vertrou nie en vir geldige redes, die onopgeleide bendes in die kaap sit nou ore op die polisie hoekom ons die klomp nog verdra gaan my verstand te bowe die mense gaan self begin optree soos die geval in Rustenburg en moenie verbaas wees as hulle begin polisie stasies afbrand en die klomp onthef van hulle pos nie….Mugabe het ook gedink hy kan maak wat hy wil en sy mense se klagtes het op doweore geval en kyk nou.

Lana ·

Helenvale is berug vir bendegeweld. Ek was ‘n ruk lank betrokke by skole daar. My hart gaan uit na die kinders en toegewyde onderwysers wat daagliks hul lewens in ‘n oorlogsone waag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.