Seun (2) wat byna in vuil swembad verdrink, sterk goed aan

Damon Ferreira. Foto: Facebook.

Dit gaan beter met Damon Ferreira, wat gister sy tweede verjaarsdag in die Netcare Bay-hospitaal in Richardsbaai gevier het nadat hy Woensdag in die swembad van die gesin se nuwe huis beland het.

Chantel Ferreira, Damon se ma, het aan Maroela Media gesê die dokters is baie tevrede met Damon se vordering. “Dit gaan baie beter met hom, die dokters het ons wel gevra om nie meer aan hom te vat nie. Die medikasie wat hom onder sedering moet hou lyk my werk nie lekker met hom nie, die mannetjie is te sterk. Hy kriewel rond en die dokters wil hê hy moet rus,” het Ferreira gesê.

ʼn Fisioterapeut kom sien ook vir Damon twee keer per dag en werk op sy longe en ook op die res van sy liggaam om seker te maak sy lyfie word nie te styf van die lank lê nie.

“Damon het steeds ʼn masjien wat sy temperatuur reguleer om sy lyf; hulle het dit met die ambulans van Ballito af laat hom. Sy temperatuur staan op 34 C° en hulle mik vir 37 C°. Dit is ʼn lang proses – eers as hy warmer is sal hulle hom heeltemal wakker maak.”

Die susters in die hospitaal het gister vir Damon gesing vir sy verjaardag.

Maroela Media het vroeër berig die gesin het Saterdag na ʼn nuwe huis in Richardsbaai verhuis van Vryheid af. “Hulle moes een van die vensters vervang, asook die voordeur; dis waarmee die kontrakteurs Woensdag besig was,” het Chantel vertel. Damon het toe in ʼn vol swembad wat nog in die proses was om reggemaak te word beland. Die swembad was grasgroen en vol slik.

“Ek het begin skree: ‘My child, my child!’ en die eienaar se seun het aangehardloop gekom, ingespring en Damon uitgehaal. Hy was al blou om sy mond. Hy het gesê ek moet begin om hartmassering toe te pas, maar ek kon nie op daardie oomblik onthou hoe nie.

“Die man het Damon toe op sy sy gedraai en in die ribbes begin pomp, en ek het nog vir hom gesê hy moenie te hard druk nie. Hy het toe gesê ons moet Damon dadelik hospitaal toe neem. Ek het nie eens geweet waar die hospitaal is nie,” het Chantel vertel.

Die man het vooruit gejaag met Damon, en Chantel het haar ander twee kinders in die kar gelaai en ook begin jaag. “Ek het nie eens skoene aangehad nie. Ek het een verkeerde afdraai gevat omdat ek die dorp nie ken nie. Teen daardie tyd was die man gelukkig al op pad terug om my te kom haal. Ek is so dankbaar dat hy daar was.”

Dokters is in dié stadium bekommerd oor sy linkerlong omdat die aanvanklike x-strale net wit gewys het. “Dit is as gevolg van al die vuilgoed en slik in die water. Dit begin kom nou stuk-stuk uit, maar hy het infeksie in sy longe as gevolg daarvan.”

Die gesin het nie ʼn mediese fonds nie, maar die hospitaal probeer hulle sover moontlik tegemoetkom. “Ons praat direk met die hospitaal se finansiële beamptes, en hulle probeer regtig kyk waar hulle vir ons kan afslag gee en ons kan akkommodeer. Dit lyk of hulle hom nie nou dadelik sal oorplaas nie.”

ʼn Blad is in Damon se naam geskep sodat belangstellendes geld kan oorbetaal om die gesin by te staan. “Die geld wat ons sover gekry het, sal ek gebruik om die goed soos die x-stale waarvoor ons kontant moet neersit te betaal.”

Hulle het tot dusver nagenoeg R30 000 ontvang. “Ek het vandag nou weer x-strale en bloed betaal met daardie geld. Dit is ongelooflik hoeveel mense belangstel en boodskappe stuur en bid, dis net ongelooflik.”

Enige iemand wat belangstel of wil bydra kan Damon se blad op Facebook besoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

snoefie ·

louis mens kan staats dokters sien maar daar is nie staatsbehuising vir blankes nie. hulle het darem nie op straat gaan woon met hulle kinders nie!
geeftag!
weet jy buitendien hoeveel kos n mediesefonds en hoe min dekking dit in elk geval bied? hengse bybetalings op absoluut alles. tensy jy vigs het of miv+ dan dek hulle alles 100% tot die nagdoeke ook.

Marinda ·

Hang af van die plan wat jy op is en jou mediese vonds snoefie.

Ann ·

Die dokters sê hulle moenie meer aan hom vat nie?
Watse nonsies is dit? Weet hulle nie ñ moeder se “touch” verrig wonderwerke nie?
Ek is baie dankbaar hy sterk so goed aan!!

Poeks ·

Hi Ann, n moeder se touch doen wonderwerke maar in sy geval is sy liggaam temperatuur nie reg nie. Dit was selfde geval met my seuntjie toe hy op 6 weke n operasie moes kry, ons mag ook nie an hom gevat het toe hy uitgekom het nie omdat sy liggaam temperatuur nie reg was nie. Dit is nogal hartverskeurend om nie an hulle te kan vat nie. Sterkte vir die familie ek glo Damon gaan sommer nog een van die dae weer rond hardloop.

Sê maar net ·

Hi Ann, die Drs bedoel nie om lelik met die ouers hier te wees nie. Ek het lank in ‘n Neonatale en Paeds ICU gewerk. Daar is werklik mediese redes hoekom hulle so sê. Maar ek bid dat daar vir daai ouers nog baie drukkies en soene in die toekoms wag…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.