Seun (3) dag ná sy ontvoering gevind

Chuma Yumata. Foto: Verskaf

ʼn Driejarige seun van die Oos-Kaap is ʼn dag nadat hy glo ontvoer is, deur die polisie gevind.

Kapt. Andre Beetge, polisiewoordvoerder, het gesê die seun, Chuma Yumata, het Saterdag omstreeks 13:00 in Motherwell uitbereiding NU12 verdwyn.

“ʼn Voorlopige ondersoek het aangedui dat die seun moontlik deur ʼn 35-jarige vrouefamilielid ontvoer is,” het Beetge gesê.

“Die vrou het die seun se pa, Peter Mzimkhulu (35), by sy huis gaan besoek. Sy is teen 13:00 daar weg terwyl Chuma voor in die erf gespeel het. Kort daarna het die huisbewoners besef Chuma is weg.”

Beetge het gesê die polisie is ontbied en terwyl hulle in die gebied navrae gedoen het, het inwoners gesê hulle het die vrou, wat ʼn swart rok aangehad het, met Chuma in haar arms in die straat sien loop.

Die polisie het ʼn volskaalse soektog na die vrou en die seun rondom Motherwell, asook Uitenhage gedoen, aangesien die vrou glo in daardie rigting is.

Chuma is Sondagmiddag middag ongedeerd in Uitenhage opgespoor en die vrou is in hegtenis geneem.

Beetge het gesê ʼn deurbraak in die soektog is gemaak nadat daar nou saam met minibustaxibestuurders gewerk is wat gehelp het met die soektog.

“ʼn Taxibestuurder het die seun herken en met hom en die vrou na die Uitenhage-polisie se gemeenskapsdienssentrum gery, waar die vrou in hegtenis geneem is.”

Die seun is intussen met sy pa en familie herenig. Die vrou moet binnekort in die hof verskyn op aanklag van ontvoering.

Die motief vir die beweerde ontvoering is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dikkes ·

Baie dankie aan die op en wakker taxi bestuurder, goeie daad gedoen. Daar is regtig goeie taxi drywers daar buite.

Stella ·

Daar is wel beleefde taxi bestuurders ook. Hulle is nie almal dieselfde nie. Ek gee hul ook n kans om te ry wanneer hul bv by n systraat wag om in die verkeer te kom. Daar is van hul wat ook vir my n kans gee en ek glo as ons so teenoor mekaar optree sal dit goed gaan. Almal moet net leer om geduldiger te wees teenoor mekaar. Volgende keer wanneer jy in nood verkeer kan n taxi bestuurder net daar wees om jou te help.

Edmund ·

Presies wat met my en my dogtertjie gebeer het na n baie ernstige kar ongeluk op n snelweg. n Taxi het gestop en gehelp waar hulle kon.

Stella ·

Ek is ook dankbaar dat die seuntjie gou gevind is en weer veilig by die huis is.

Helen ·

Ek is ook bly vir die “happy ending”. Dit kon so anders gewees het.

YOLANDI ·

Hy het die mooiste gesiggie. Ek is bly hy is gevind en die vrou word verantwoordelik gehou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.