Seun (3) sê eerste woorde ná hy amper verdrink

Mary en Nico Mostert Donderdag in die hospitaal. Foto: Verskaf.

Mary en Nico Mostert Donderdag in die hospitaal. Foto: Verskaf.

In die waakeenheid van Life Parkland-hospitaal in Springs waak ʼn pappa en mamma konstant langs hul driejarige seun se bed, waar hy sedert Sondag behandeling ontvang nadat hy byna verdrink het.

Nico Mostert se dokters het hom Woensdag van die asemhalingsmasjien afgehaal en begin wakker maak uit ʼn geïnduseerde koma. Later maak hy sy ogies slaperig oop, kyk vir sy ouers en sê “Pappa” en kort daarna “ry”.

Ma Mary (37) se eerste reaksie was om uit te hardloop en die goeie nuus, dat Nico reageer, met hul geliefdes te deel, wat buite in die wagkamer wag.

“Dit was die beste gevoel om sy oë te sien oopgaan. Hy is ʼn blessing from God above. Hy is ʼn wonderwerk. Ek het hom Sondag in my arms vasgehou en hy was dood, blou en pap,” het Mary Donderdag vanuit die hospitaal aan Maroela Media gesê. Sy klink baie beter en opgewek as die gebroke ma wat Maandag oor die nagmerrie-ervaring, wat ʼn hele plaasdorpiegemeenskap saamgebring het, gepraat het.

Nico het Woensdag, nadat hy wakker gemaak en van al die pype en drade verlos is, ʼn MRI-skandering ondergaan om vas te stel of hy enige permanente skade opgedoen het.

Sy dokter het Donderdagoggend verdere goeie nuus met die ouers gedeel dat toetse wys Nico het geen breinskade opgedoen nie. “Dit was die beste nuus ooit, ek het die afgelope paar dae erg daaroor gestres,” het Mary gesê.

“Die dokters is egter bekommerd, aangesien hy stuiptrekkings gekry het, dat dit dalk later kan terugkeer. Hy is op spesiale medikasie gesit vir kinders wat epileptiese aanvalle kry en gaan nog vir ses dae in die hospitaal gehou word vir waarneming om te kyk hoe hy op die medisyne reageer, maar hy het sedert gister nie weer stuiptrekkings gekry nie. Hy speel en lag en het drie groot lekkers geëet wat een van die susters vir hom gegee het. Hy wil nou net ry en is nie lus vir die hospitaal nie.”

Nico is Donderdag na die pediatriese waaksaal van die hospitaal oorgeplaas en moet vir die volgende paar dae twee keer ʼn dag fisioterapie ontvang om slym, wat in sy longe opgebou het, los te kry.

Terug by die huis kan sy ouboet, Neels (14) en sussies, Sarie (8) en Bella (7), nie wag om hul boetie weer te sien wanneer hy uit die waakeenheid is nie.

Neels jr. en sy neef het reeds die swembad begin toespan sodat Nico nie weer daar naby kan kom nie. Die familie het ook heinings aangeskaf en gaan ʼn seil oor die swembad span.

Mary verduidelik sedert hulle in Oktober by Neels se broer ingetrek het, is Nico nooit sonder toesig by die swembad toegelaat nie. “Hy het altyd wanneer ons geswem het, aan ons arms vasgeklou.”

Veral Nico se sussies moes berading ontvang, nadat hulle hul boetie se lewelose lyfie langs die swembad sien lê het, waar mense onverpoosd geveg het om hom by te bring.

“Ek het soveel woorde wat ek wil sê, maar alles kom neer op dankie. Dankie vir almal, dankie vir almal se gebede en alles wat julle vir ons gedoen het. Dankie dat julle ons in julle gedagtes hou en dankie vir al die boodskappe van bemoediging. As die Sundra-gemeenskap weer vergader en Nico is by die huis, wil ek die wonderwerk aan die gemeenskap gaan wys sodat hulle kan sien hul optrede het sy lewe gered.”

Sy het gesê wanneer hy terug is by die huis, sal hy heel eerste oorweldig word met almal se soene en drukkies, waarna hy met sy gunsteling speelgoed, karretjies en sy rooi skopfiets, in die huis gaan speel.

Nico saam met Derek Bester, een van die mans wat sy lewe gered het. Foto: Verskaf

Nico saam met Derek Bester, een van die mans wat sy lewe gered het. Foto: Verskaf

Nico se ouers woon sedert Oktober by sy pa, Neels (35), se broer op Sundra in Mpumalanga, waar Nico byna in die swembad by die huis verdrink het.

Mary was omstreeks 16:00 in die kombuis besig om die kinders kos te gee, toe sy ʼn oproep ontvang oor ʼn familiekrisis. Die sein is baie swak in die huis en Mary moes deur die voordeur na buite gaan vir beter opvangs. Nico het intussen by die agterdeur uitgeglip en in die swembad beland.

Terug in die huis het Mary besef Nico is nie in die kombuis of by sy pa nie. Haar eerste reaksie was om in die swembad te gaan kyk, waar sy Nico se lyfie in die diep kant van die swembad sien dryf het.

Dit is nie bekend hoe lank hy in die water was nie. Mary het dadelik om hulp geroep en Nico uit die water gehaal. Neels het begin noodhulp toepas terwyl Mary hulp oor die gemeenskapsradio ontbied het.

“Help asseblief, my kind is dood, my kind is dood, Here help asseblief!” het Mary histeries oor die radio geroep.

Binne minute was Derek Bester, voorsitter van die plaaslike buurtwag, die Sundra Rietkol Bulldogs en Derek Meyer, ook van die buurtwag, by die erg getraumatiseerde ouers.

Hulle het dadelik noodhulp toegepas en Nico na die Parkland-hospitaal geneem waar hy verdere behandeling in die ongevalle-eenheid ontvang het. Die hele gemeenskap het in dié tydperk vir Nico gebid en sy toestand het wonderbaarlik verander nadat hy by die dood omgedraai het.

Nico se ouers het nie ʼn mediese fonds nie en met die buurtwag en gemeenskap se hulp is duisende rande daarna inderhaas ingesamel om hom in die hospitaal se waakeenheid te laat opneem. Hy was sedertdien in ʼn geïnduseerde koma en aan ʼn asemhalingsmasjien en breinsensors gekoppel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Celia ·

Al die eer aan die Here! Saam met julle bly en dankbaar! Voorspoed vorentoe!

Dankbaar ·

Baie dankbaar saam met julle…Maroela:’elliptiese’ aanvalle?

Janie Monsieur ·

Dagsê Dankbaar,

Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorsig, die artikel is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Rika ·

Ai, dis wonderlik dat die kleinding nou ok is.
Dankie Maroela Media dat julle altyd terugvoer gee op stories. Dit tref my altyd met hoeveel simpatie julle elke storie hanteer, dat ek sit en snik, soms oor goeie, en soms die slegte nuus.

Rooiman ·

God is groot. Altyd en oral. So baie stories van kinders wat verdrink. Dankie Here vir goeie nuus en wonderwerke. Staan asb almal by wat nie so “gelukkig” was nie. Tog weet ons U is in beheer en sal alles ten goede laat meewerk vir die wat U liefhet.

evsbest ·

So dankbaar saam met julle!!!!! So jammer vir die ouers wat nie so n gelukkige einde gehad het die afgelope 6 maande nie.

Spokie ·

Baie bly die seuntjie is beter en dis Genade van Bo. Hierdie ouers kan jy sommer hoor is lief vir hulle kinders en uiters bly oor die positiewe verwikkelinge anders as die gemors wat sy stiefkind van 5 jaar in Frankryk laat hardloop het tot hy neergeslaan en dood verklaar is. Sekere mense behoort nooit kinders te he of naby hulle toegelaat te word nie. Nogsteeds baie bly vir die ouers!!! Wonderwerke gebeur steeds en daar is steeds baie goeie mense daarbuite wat selfs help fondse insamel het, laat n mens darem weer met n positiewe oog na die mensdom kyk

Balkie ·

Hoe wonderlik dat een klein gemeenskap so mooi kan saam staan en geld so vinnig kan vorder vir ander. Eer aan Vader vir sy lewe. Ouers ons juig saam met julle.

Jane ·

So bly die knapie is weer op en aan die gang . inderdaad ‘n WONDERWERKIE!! Geniet die ou seuntjie van jou. Hou hom styf vas en gee net drukkies en soentjies. So bly hy is gespaar!

Alida ·

Mense maak julle swembadens toe of laat die kinders opblaas vlerkies dra. ASB!

hendrik van heerden ·

Prys die Here vir sy liefde en genade.Bring die kinderkies na my toe en verhinder hulle nie want aan hulle behoort die koningkryk van God

Piet Pompies ·

Sterkte vir die ouers en ‘n spoedige herstel vir die soldaat… die antwoorde op ons gebede gaan die gemiddelde persoon se verstand te bowe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.